TWEEDE UITGAWE van Nuusbrief
Voorsitter aan die woord
Die reaksie op ons eerste Nuusbrief het alle verwagtinge oortref. Omdat ons bewus was van ons geringe poging om die publiek te bereik, het ons gehoop dat ons tog hier en daar iemand sal betrek om ons nuusbrief te lees. Groot was ons verbasing toe mense ons begin skakel het en briefies by die kantoor aangekom het met dankies vir die nuusbrief en ons sien uit na die volgende een.
Daar was kritiek (goed bedoel) wat ons in gedagte gaan hou, maar ons doel bly steeds om u in te lig oor die werksaamhede van Volkshulp 2000.
Ons beleef elke dag die felle aanslag op ons Boere-Afrikanervolk, en die felheid daarvan neem steeds toe. Die tyd het aangebreek dat ons kleinlike verskille van ons af wegwerp en saamstaan teen die oorweldigende oormag wat besig is om oor ons land te spoel.
Ons mense kry swaar, werksgeleentheid word by die dag minder - selfs so dat ouers nie meer hulle kinders kan versorg nie. Is u bewus van die koste om maar net een kinderhuis te begin?
Onthou ons staan onbeskaamd vir die versorging, opheffing en indiensplasing van BLANKE VOLKSGENOTE, en derhalwe geen subsidie van die staat nie.
Die posisie van ons bejaardes is vinnig besig om te versleg. Ons mag ons bejaardes nooit aan hulle lot oorlaat nie - hulle is kosbaar vir ons en daarom moet daar na hulle omgesien word.
Wat van beskutte arbeid? Moet kinders van ons volksgenote wat in spesiale skole is, wat ookal die probleem mag wees, geriefshalwe vergeet word. Het hulle nie ook die reg op n sinvolle lewe nie?
Sien u die scenario en besef u die omvang van dit waarmee Volkshulp 2000 worstel. n Baie groot dankie aan u ons vriende wat so gereeld gee, selfs uit armoede nog ietsie afknyp. Sonder u hulp kan ons nie vorentoe nie! U is Volkshulp 2000 se kragbron. Bo alles glo ons dat die God van ons vaders wie ook ons God is, ons nooit in die steek sal laat nie. God se doel met ons as Afrikaner-Boerevolk sal vorentoe vir ons duidelik word. Ons moet net nie twyfel aan sy liefdevolle bemoeienig met ons nie. Vergun my ook die versoek: Bid vir ons. Ons het dit baie nodig, want ook hier is die aanslag van die vyand van hierdie volk hewig en fel. Baie dankie dat u ook hierdie nuusbrief gaan lees.
DS. W. VAN WYK
Dankies beteken so baie
In ons eerste uitgawe het ons verwys na twee gevalle, nl. die oumatjie wat Volkshulp 2000 met n gehoortoestel gehelp het, asook die vroutjie van Naboomspruit wat n baba verwag het. Ons plaas nou die twee briefies van dank, asook n paar ander briefies wat ons ontvang het.
Ek stuur u hiermee n tjek vir die behoeftiges.
Ek het reeds van te vore u daarop attent gemaak dat indien u meer publisiteit sou verleen aan die manier waarop u die geld spandeer wat aan u geskenk word, die publiek weer geredelik u sal ondersteun. Mense hou nou maar eenmaal daarvan om te weet hoe hul bydraes bestee word.
Beste wense en voorspoed op u pogings om die behoeftiged by te staan.
P.W. THIRION
William James, die vader van Amerikaanse sielkunde, het gesê dat die grootste ontdekking van die negentiende eeu nie die terrein van natuurwetenskappe was nie. Die grootste ontdekking was die krag van die onderbewussyn, aangeraak deur die geloof. Elke mens beskik oor daardie onbeperkte reservoir van krag wat enige probleem in die wêreld kan oorkom.
Begin nou deur geluk te kies. Dit is hoe u dit doen: As u u oë in die more oopmaak, sê vir uself: "Heilige Gees neem vandag en elke dag besit van my lewe".
Alle dinge werk vandag ten goede saam vir my. Hierdie is n nuwe en wonderlike dag vir my. Ek word die hele dag goddelik gelei, en wat ek ookal mag doen, sal geseënd wees.
Goddelike liefde omring my, omarm my en vou my toe, en ek sal my pad bewandel in vrede.
Wanneer my aandag wegdwaal van dit wat goed en konstruktief is, sal ek dit onmiddellik terugdwing na die beskouing van dit wat mooi en goed aangeskrewe is.
Ek is n geestelike en verstandelike magneet wat dinge na my toe aantrek wat my gelukkig maak en begunstig.
Ek gaan vandag van al my ondernemings n wonderlike sukses maak.
Ek gaan gewis die hele dag gelukkig wees". Begin elke dag op die manier, dan sal u geluk kies en n stralende en vrolike mens wees.
Geneem uit: The Power of your
subconscious mind.
Deur Dr. Joseph Murphy
Die Redakteur
Die Volkshulpernuus
Geagte Afrikaner, ander mense kyk na ons en die beeld wat ons uitdra is uiters belangrik, nou meer as ooit. Onderstaande is na my mening MINIMUM VEREISTES as ek n bevredigende beeld van die Afrikaner wil uitdra. Die vereistes is nie in voorkeur volgorde nie. Indien u nie aan een of meer van die vereistes voldoen nie en u stem met my saam oor die geldigheid van die vereiste, werk daaraan!
Vrygewigheid
Geloofsvastheid
Netjiese voorkoms
Ingesteldheid op suiwer Afrikaans
Vriendelikheid teenoor alle mense.
Vermyding van gekruide taal.
(Het u al ooit gewonder wat mense wil bereik deur te vloek? Is n gevloek werklik nodig?)
Verdraagsaamheid.
Eerlikheid en opregtheid.
Liefde vir jou medemens. (Het u geweet dat, hoewel dikwels n spontane gevoel, liefde ook n wilsdaad kan wees?)
As u bostaande vereistes onder die knie het is dit maar die begin. Om n bestaan te maak in die moeilike wêreld waarin die Afrikaner hom bevind, is daar geweldig baie tegnieke wat bemeester kan word. Elke Afrikaner moet daarna streef om so selfstandig as moontlik te wees en om ander te help om ook selfstandig te wees. Volkshulp 2000 is nie net om te help in nood nie, maar om ook die moedeloses te help en aan te spoor om selfrespek en selfstandigheid te bereik.
VINTCENT BERGH
n Baie groot ekskuus
In ons eerste uitgawe het ons na ons senior burgers verwys as "ons ou mensies." Mnr. Geyser van Waterval-Boven het ons liggies oor die vingers getik en gesê dit is darem nie heeltemal reg nie. Ons vra al ons senior burgers om verskoning as ons u dalk te na gekom het. U is vir ons kosbaar en was dit maar net n liefdeswoordjie wat ons gebruik het, en ons hoop dat die saak nou in die reine gebring is.
Lekker leesstof vir ons volksgenote
Nie alleen is oom H.S. van Blerk n spesiale vriend van Volkshulp 2000 nie, maar is hy n besonderse begaafde skrywer van vele boeke. Ons glo dat u reeds al oom H.S. se boeke gelees het, maar vir die van u wat nog nie: De, wêreld, hier n kind vir jou en My God My Volk My Land, Suid-Afrika, gelees het nie, wag daar nog sommer ure se leesgenot. Hierdie is twee boeke wat u net eenvoudig moet aanskaf. Indien u belangstel kan u die boeke by Volkshulp 2000 bestel. Elke boek wat verkoop word, skenk oom H.S. n bedrag aan ons. Bederf uself en bestel sommer nou albei. Beide boeke kos R60 (sestig rand) elk.