FINANSIES 8.1 DIE PROBLEMATIEK 8.1.1 Die skepping en voortsetting van doeltreffende gebiedsadministrasie in 'n onafhanklike Volkstaat stel uiteraard hoë eise op finansiële terrein en dit volg dus dat, waar dit gaan oor die handhawing van Westerse standaarde, ontwikkeling op staatkundige gebied noodsaaklikerwys deur ekonomiese ontwikkeling gerugsteun moet word. Ekonomiese ontwikkeling is egter een faset van 'n gemeenskap se lewe en nie noodwendig die belangrikste nie. In die uitvoering van 'n omvattende ontwikkelingsprogram moet dit nie vordering op ander terreine en veral dié van mensontwikkeling verbysteek nie. Die tempo van ontwikkeling soos verwikkelinge in baie state in Afrika bewys het, word nie uitsluitlik deur ekonomiese ontwikkeling bepaal nie. In hierdie gevalle waar die voormalige kolonies Westerse standaarde probeer naboots het, het die behaaglikheid wat onafhanklikheid meegebring het vervaag en het die massas deel geword van 'n hongerkultuur waar hulpverlening van ander lande met die voorsiening van lewensmiddele onontbeerlik geword het. Andersyds kan dit egter aanvaar word dat, in die finale instansie, 'n georganiseerde en selfversorgende samelewing slegs ontwikkel, en 'n eie identiteit in 'n Volkstaat slegs behou kan word binne die raamwerk van ekonomiese vooruitgang. 8.1.2 In die RSA kon die ontwikkelingsproses van die voormalige tuislande nie geskied en wel as gevolg van die normale werking van die markmeganisme. So 'n proses begin by die skepping van openbare dienste soos onderwys, paaie, gesondheid, pos- en telegraafdienste en hawens en dit is normaalweg die verantwoordelikheid van die staat. Die staat moet dus die finansies vind om die infrastruktuur wat onontbeerlik vir enige rasionele proses van ekonomiese en maatskaplike ontwikkeling is, te voorsien. In die geval van ontwikkelende lande kan 'n versnelling van die skepping van hierdie dienste slegs teweeggebring word deur finansiële en tegniese bystand deur ander lande of instansies. 8.1.3 In die geval van die voormalige tuislande het die voorsiening van hierdie dienste, die vormende ontwikkeling van die mens as hoofspeler van ekonomiese vooruitgang en die omskepping van bestaansboerdery (een van die mens se mees spontane bedrywighede) in gerasionaliseerde en kommersiële boerdery, noodwendig bystand van een instansie, te wete die RSA, vereis. Daar kan aanvaar word dat die toebedeling van fondse deur die Regering in die nuwe staatsbestel (te wete 'n federasie wat op 'n eenheidstaat sal uitloop) en volgens 'n bepaalde voorrangorde in die verskeie provinsies, voortaan 'n interessante en waarskynlik hoogs omstrede aangeleentheid in die Kabinet en die Wetgewende Vergadering sal wees. 8.1.4 Wat die stedelike Swart woongebiede betref, ontstaan daar 'n wederkerende probleem as gevolg van die subsidiëring van huur- en dienstegelde deur die Staat of ander owerheidsinstansies. As gevolg van verskeie faktore, onder meer die verhoging van sodanige gelde, die toenemende verstedelikingsproses, die natuurlike aanwas in die Swart bevolking, die feitlik onbeheersde toestroming (ook vanaf ander Afrika state), plakkergebiede en massale agterstande, word steeds toenemende eise aan die Staat gestel. 8.1.5 Die ideaal is natuurlik dat die persoon self moet betaal vir die dienste wat hy geniet, terwyl die voortgesette subsidiëring daartoe lei dat hy dit as 'n reg aanvaar. Hierdie situasie dra nie by tot die proses van opheffing van die mens en die kweek van 'n selfstandigheidsin en trots nie. Die vraag ontstaan ook of die betaling of verhoging van maandelikse gelde, as aanleidende oorsaak tot stakings en onluste, aangevoer sou kon gewees het as die mense oor die jare gekondisioneer was om self vir die dienste wat hulle geniet, te betaal. Hier het ons te make met 'n ingewikkelde en netelige situasie, waarmee die Volkstaat ook te make sal hê, en waarvoor daar geen kitsoplossing is nie. Die oplossing oor die langtermyn blyk te lê in die normale werking van die ekonomie. Dit impliseer dat die gelde wat die persoon verskuldig is ten opsigte van sy verblyf in die stedelike woongebiede, periodiek aangepas moet word totdat hy op 'n ekonomiese grondslag daarvoor betaal. Vir die werkgewer bring dit die verpligting mee dat hy 'n salaris of loon moet betaal wat die werker in staat sal stel om sy finansiële verpligtinge na te kom. 8.1.6 'n Faktor wat verreikende implikasies het, is die ooglopend ge-orkestreerde stakings wat as hoogsdoeltreffende instrument in die stryd om politieke verandering deur die vakbonde voor die algemene verkiesing in April 1994 gebruik is en wat nog steeds aangewend word vir die verhoging van besoldiging en ander toegewings deur werkgewers in beide die staatsopset en die privaatsektor. Van 'n moreel regverdigbare verhoging in produktiwiteit is daar ongelukkig geen sprake nie. In werklikheid het daar in die geledere van werkers oor die wye spektrum van dienslewering in die land 'n stakings- kultuur ontwikkel en soos in die geval van die voormalige TBVC-lande, waar die regerings nie die negatiewe beïnvloeding vanuit die RSA van werkers in dié lande kon voorkom nie, kan daar verwag word dat die vakunies sal poog om hulle invloed ook in die Volkstaat te laat geld. Hier het ons te make met 'n belangrike rede vir die huiwering van die kant van ontwikkelingsinstansies en sakemanne om by die finansiering van projekte betrokke te raak. 8.1.7 Werkywer en 'n nasionale trots by sy werksmense, wat 'n natuurlike uitvloeisel van die skepping van 'n geestelike vaderland vir die burgers van 'n Volkstaat sal wees, bied hier die blywende oplossing. 8.1.8 Die finansiële implikasies van regstellende aksie (soos in die RSA) op 'n grondslag dat die samestelling van die werkerskorps die samestelling van die bevolking moet reflekteer sal natuurlik varieer na gelang van die ligging en bevolkingsamestelling van die Volkstaat. FUNKSIONELE OORSIG VAN VESTIGINGSUITGAWES 8.1.9 As daar uitgegaan word van die standpunt dat die primêre doel van 'n strategie vir die omvattende ontwikkeling van die Volkstaat die vestiging van die Afrikaner (en andere wat hom in sy oorlewingsimperatief en ideale ondersteun) in sodanige staat is, kan die verwante funksies soos hier volg geïdentifiseer word :- 8.1.9.1 STAATSADMINISTRASIE EN - BEPLANNING, onder meer finansies, arbeidsaangeleenthede, personeel- administrasie, navorsingen bevolkingsaangeleenthede 8.1.9.2 SKEPPING VAN FISIESE INFRASTRUKTUUR, onder meer paaie en brûe, watervoorsiening, elektriese krag en geboue 8.1.9.3 VOORSIENING VAN MAATSKAPLIKE DIENSTE, onder meer staatshospitale, klinieke, maatskaplike pensioene en tehuise 8.1.9.4 GRONDBEPLANNING -EN - BEWARING, onder meer grondaankope, bewaring, herwinning, beplanning, fauna en flora 8.1.9.5 BEVOLKINGSVESTIGING, onder meer dorpstigting, dorpsbestuur, en landelike nedersettings 8.1.9.6 SKEPPING VAN WERKSGELEENTHEDE EN INKOMSTE, onder meer die verbetering van oesproduksie, aanteel van vee, bosbou, nywerheidsontwikkeling, vervoer en die mynbedryf 8.1.9.7 ONTWIKKELING VAN MENSEMATERIAAL, onder meer laer- en hoërskole, opleidingskolleges, universiteite, ens. 8.2 BELASTING 8.2.1 DIE PROBLEMATIEK 8.2.1.1 Die RSA het steeds 'n drievlakkige politieke struktuur t.w. die sentrale regering, die provinsies en die plaaslike owerhede (bestaande uit munisipaliteite en plaaslike besture). Die munisipaliteite is in 'n groot mate finansieel onafhanklik van die hoër owerhede terwyl die plaaslike besture finansiële hulp van die provinsies ontvang. Die provinsies is in 'n groot mate afhanklik van die sentrale regering vir hul finansiële behoeftes. Die belangrike feit is dat daar 'n konsentrasie van finansiële beheer in die sentrale regering is. 8.2.1.2 Daar kan aanvaar word dat hoër eise aan die finansies van die drie owerheidsinstansies voortaan gestel sal word en uiteraard veral aan die sentrale regering in 'n politieke klimaat waar daar aanduidings is van wegbeweeg van 'n federale bestel na 'n gesentraliseerde stelsel in 'n eenheidstaat. 8.2.1.3 Sake wat in gedagte kom is onder meer soos volg : (a) Die verwagtinge wat as gevolg van verkiesingsbeloftes by die massas geskep is. (b) Die misplaasde oortuiging by veral die ANC aanhangers dat hulle oor die jare die slagoffers van 'n onderdrukkende minderheidsregering was en dat hulle op sogenaamde regstellende aksies geregtig is al loop dit uit op sogenaamde omgekeerde diskriminasie. (c) Die feitlik onbeheersde toestroming van mense na die stedelike gebiede en dorpe in die platteland en die daaruit voortspruitende plakkergebiede. (d) Die grootskaalse instroming van vreemdes vanaf buurstate. Daar word gepraat van 'n paar miljoen! Die repatriasie van diegene wat opgespoor kan word, is 'n duur proses. (e) Toenemende druk word uitgeoefen vir dienste op gesondheidsgebied, die onderwys, behuising en feitlik op alle terreine vandienslewering en gebiedsadministrasie deur die owerhede. Hier gaan dit om 'n steeds groeiende anderskleurige bevolking wat hulle permanent êrens in gebiede vestig en op ekonomiese, maatskaplike en natuurlik politieke inskakeling aanspraak maak. (f) Die stygende welvaarts- en onderwyspeil van dié mense stimuleer verwagtinge ten opsigte van seggenskap oor onderwys, behuising, vervoer, ens. Hulle besef dat as hulle hul omstandighede verder wil verbeter hulle 'n effektiewe stem op verteenwoordigende en dus ook politieke terrein moet verkry. Dit spruit alles uit die houding dat hulle "hier is om te bly". (g) Hou in gedagte die bevolkingstendense wat van so 'n aard is dat die Blankes 'n kwynende minderheid van die bevolking uitmaak. Die Swartes groei na beraming 'n paar maal vinniger as die Blanke bevolking. (h) Die RSA bevind hom alreeds in die sogenaamde "skuldstrik". Daar kan aanvaar word dat hierdie situasie groot probleme gaan skep in die toekoms. Die ANC- regering se beskouing is dat daar 'n verpligting op "goedgesinde" moonthede is om grootskeeps finansiële steun te verleen in die HOP. (i) Die talle buitelandse reise van politieke leiers en andere om beleggersvertroue in die RSA aldaar te kweek het tot nog toe nie grootskaalse investering uit daardie oorde tot gevolg gehad nie. (j) Onoordeelkundige besteding deur die regering sal as gevolg van druk onderneem moet word en daar kan verwag word dat probleme ondervind sal word met die bepaling van die voorrangorders op verskeie terreine, op maatskaplike gebied (bv. pensioene)gesondheidsgebied, onderwys, ekonomiese terrein en die handhawing van wet en orde in die land. Dink aan die buitensporige loon-eise in die openbare en privaatsektore, die salarispakkette van die talle ministeriële en ander adviseurs, oorsese reise en die neiging tot selfverryking deur onreëlmatige handelinge. 8.2.1.4 Die vraag ontstaan dan watter stappe van Regeringsweë gedoen kan word om sy inkomstebronne te stimuleer, gesien die steeds toenemende vereistes wat landsadministrasie stel. Dan word onwillekeurig gedink aan die heersende klimaatomstandighede in die land. In die eerste plaas het ons te make met massa- optrede op arbeidsgebied maar wat in werklikheid ook politiek- geïnspireerd is. Daar kan seker ook verwag word dat die stryd tussen die IVP en die ANC in Kwa-Zulu Natal sal voortduur. 'n Kultuur van stakings en massa-optrede ter bereiking van 'n doel het onder die werkers posgevat. Om te verwag dat positiewe en blywende ekonomiese groei in hierdie omstandighede bewerkstellig sou kon word, sou bloot optimistiese wensdenkery wees. Dit kan as eenvoudige feit gekonstateer word dat veral buitelandse beleggers nie in die skepping van ondernemings belang sal stel tensy daar sekerheid is oor stabiliteit en vrede in die land nie. 8.2.1.5 Buitensporige hoë rentekoerse dien ook nie as aansporing vir sakemanne en mense met 'n ondernemingsgees om met 'n besigheid te begin nie. 8.2.1.6 'n Verdere ongunstige faktor is die hoë bestaande belastings wat gehef word. So ook is die voortdurende prysstygings op alle terreine 'n aangeleentheid wat 'n nadelige uitwerking op ekonomiese groei het en wat ook bydra tot ontevredenheid by die bevolking oor die algemeen. 8.2.1.7 Dit blyk dat die Regering terugdeins vir 'n verhoging van die BTW as gevolg van die moontlikheid van massa- optrede deur ook sy eie ondersteuners. 8.2.2 MOONTLIKE STAPPE 8.2.2.1 Van belang in die verband is dat die sogenaamde Regering van Nasionale Eenheid in werklikheid in 'n groot mate 'n "eenparty" Regering is waarin die ANC oorheers. Die oorgangsheffing van 5% wat ingestel is pas na sy bewindsaanvaarding dien as voorbeeld van moontlike optrede deur die Regering. Hier het ons te make met die konsep van die heffing van 'n spesiale belasting vir spesifieke doeleindes. Die moontlikheid van voortsetting of uitbreiding van sodanige heffings val in die oog. 8.2.2.2 Waar die Regering hom na verwagting in 'n progressief toenemende mate in 'n drukgang sal bevind en hom noodgedwonge tot die vermeerdering van staatsinkomste sal moet wend, kan daar aanvaar word dat enige sodanige verhogings van Regeringsweë geregverdig sal word met die argument of beskouing dat dit gaan om "regstelling van die kwade dade van die voormalig onderdrukkende regime". 8.2.2.3 Verhoging van belastings wat na verwagting oorweeg kan of sal word, is soos volg : (i) Regstreekse belastings Dit sluit in belasting op die inkomste van individue en maatskappye, belastings op nie-inwoners en skenkings, tantième en boedelbelasting. (ii) Onregstreekse belastings Hier word veral gedink aan doeaneregte wat op 'n groot verskeidenheid invoergoedere gehef word en aksynsregte wat betaalbaar is op bier, wyn, spiritualieë, tabakprodukte, brandstof en plaaslik- vervaardigde motors. Soos alreeds aangedui is die verhoging van BTW iets waarvoor die Regering blykbaar terugdeins. (iii) Die inkomste wat uit belastings verkry word kan natuurlik ook vermeerder word deur die afskaffing, terugtrekking of vermindering van belastingtoegewings. (iv) Die moontlikheid van "nuwe" belastingsbronne kan natuurlik ook oorweeg word. So byvoorbeeld word daar aandag gegee aan die moontlikheid van 'n hoogsomstrede grondbelasting op plase. Die implikasies van so 'n belasting sou verreikend wees en is inderdaad 'n hoogs emosionele aangeleentheid. 8.3 VOORGESTELDE FINANSIëLE ADMINISTRASIE 8.3.1 FINANSIëLE ADMINISTRASIE VAN DIE VOLKSTAAT In die benadering tot finansiële aangeleenthede in die konteks van gebiedsadministrasie in 'n soewerein onafhanklike volkstaat word onwillekeurig gedink aan die Latynse uitdrukking via trita via tuta en word dit dan ook aanvaar dat die gebaande weg inderdaad die veilige weg is. Gevolglik is die uitgangspunt dat die beproefde stelsel van die RSA die aangewese stelsel vir die Volkstaat is; natuurlik met aanpassings waar nodig blyk te wees. 8.3.2 Die stelsel van finansiële administrasie van die Staat wat van toepassing is in die RSA is van die Verenigde Koninkryk oorgeërf en was in werking in die vier Kolonies voor die totstandkoming van die Unie van Suid-Afrika in 1910. 8.3.3 DIE KONSTITUSIONELE BEHEERPROSESSE Eerstens dan is daar die konstitusionele beheerprosesse. Die grondbeginsel van die gevestigde finansiële stelsel van die RSA is dié van finale beheer deur die Parlement. Die volgende twee fundamentele reëls vloei hieruit voort 8.3.3.1 Dat geen belasting sonder die goedkeuring of magtiging van die Parlement geïn word nie, en 8.3.3.2 dat geen fondse van die staat bestee mag word nie tensy die Parlement 'n wet (die Begrotingswette) aangeneem het om die uitgawe te magtig. (Daar is een uitsondering waarvoor wetlike voorsiening gemaak word t.w. in uitsonderlike omstandighede mag die Minister van Finansies magtiging verleen vir die beskikbaarstelling van 'n beperkte bedrag uit die Skatkis. Die bedrag wat kragtens hierdie magtiging ('n spesiale volmag) beskikbaar gestel word moet egter nie later nie as die volgende sitting aan die Parlement voorgelê word) 8.3.4 Streng beheer oor die beskikbaarstelling van gelde word op hierdie wyse deur die Parlement uitgeoefen. Dit is vir die Parlement onmoontlik om deurlopende beheer van dag tot dag uit te oefen en daar moet op sekere ander beveiligingsmaatreëls staatgemaak word om toe te sien dat dié twee fundamentele reëls nagekom word en dat gelde wat bewillig is aangewend word vir die doel waarvoor dit bewillig is. Die instansies wat met die verdere beveiligingsmaatreëls gemoeid is, is die Ouditeur-generaal, die Staande Gekose Komitee oor Openbare Rekeninge, die Tesourie en die Rekenpligtige Beamptes van die verskeie staatsdepartemente. 8.3.5 DIE OUDITEUR-GENERAAL Die Ouditeur-generaal kan as die noodanker van Parlementêre finansiële beheer beskou word. Hy is nie 'n staatsamptenaar in die gewone betekenis van die woord nie maar word deur die President aangestel. Hy is in werklikheid 'n beampte van die Parlement met spesiale immuniteite en 'n spesiale regsposisie, in baie opsigte soortgelyk aan dié van 'n regter. Hy mag slegs met die goedkeuring van die Parlement ontslaan word. 8.3.6 Dit is die plig van die Ouditeur-generaal om die rekenings, betalings, ens. na te sien, te ondersoek en te ouditeer. Hy moet hom ook daarvan oortuig dat alle redelike voorsorg getref is om die behoorlike invordering van staatsgelde te bevestig en dat die betrokke wetsbepalings behoorlik nagekom is. Hy rapporteer enige onreëlmatighede, afwyking van voorgeskrewe prosedures en enige aspek wat hy as onbevredigend beskou. Omdat hy 'n beampte van die Parlement is word sy verslag aan die Parlement voorgelê. 8.3.7 DIE STAANDE GEKOSE KOMITEE OOR OPENBARE REKENINGS Die finale rekenings en state van alle departemente, die finansiestate van die Tesourier en die inkomsterekenings van die hoof ontvangers van inkomste tesame met die verslag van die Ouditeur- generaal word deur die Minister van Finansies aan albei Huise van die Parlement voorgelê. Die Nasionale Vergadering as die oorheersende finansiële Huis verwys die state en die Oudit-verslag na die Gekose Komitee. Die Gekose Komitee neem getuienis op, vra dokumente aan indien nodig, neem die betrokke rekenpligtige amptenaar onder kruisverhoor en verkry verklarings oor enigiets van onreëlmatige of betwisbare aard. 8.3.8 Die Gekose Komitee rapporteer sy bevindings aan die Nasionale Vergadering en doen aanbevelings oor finansiële sake wat na sy mening verbeter kan word. Die aanbevelings van die Gekose Komitee word na die Kabinet verwys en gedurende die volgende sessie moet die Tesourie antwoorde op die besluite verstrek en meld watter stappe gedoen is om die betrokke aangeleentheid in die reine te bring. 8.3.9 DIE TESOURIE (A) Vooruitlopende Beheer As die kantoor of Departement van die Minister van Finansies (wat die waarborg van Parlementêre goedkeuring vir sy magtigings impliseer) het die Tesourie sekere by wet of by regulasie voorgeskrewe gesag en bevoegdhede wat aangevul word deur sy tradisionele konstitusionele posisie. 8.3.10 Die funksies en bevoegdhede van die Tesourie dek 'n breë veld en dit lê in die aard van die saak dat die verskeie wetlike bepalings, regulasies en voorskrifte wat verband hou met die gekoördineerde beheer oor finansies deur die Tesourie nie hier breedvoerig uiteengesit kan word nie. Aandag word wel gevestig op enkele aspekte in dié verband 8.3.10.1 Voortspruitend uit sy rol in die konstitusionele beheerproses, die funksie en daarmee gepaardgaande bevoegheid van die Tesourie met betrekking tot die oorweging van die departementele begrotings en die opstel van die begroting vir voorlegging aan die Kabinet en uiteindelik, die Wetgewende Vergadering. 8.3.10.2 Die bepalings van die Skatkis-wet ingevolge waarvan die Tesourie die bevoegdheid het om die betaling van gelde wat deur die Parlement bewillig is, te beperk tot die bedrae wat die Tesourie nodig ag. 8.3.10.3 Die bepalings van voormelde wet waarkragtens die Tesourie van tyd tot tyd voorskrifte (tesourie-voorskrifte) kan uitreik met betrekking tot die invordering, versorging, uitbetaling, ens. van staatsgelde en die beheer van voorrade, ens. 8.3.10.4 Die funksies en bevoegdhede van die Tesourie met betrekking tot na- begrotingsbeheer oor uitgawes oor die algemeen. 8.3.10.5 Die vereiste in baie wette dat oorleg met die Minister van Finansies of die Tesourie gepleeg moet word. Hierdie bepaling dien as 'n bevestiging van en 'n herinnering daaraan dat die Tesourie in die finansiële implikasies van wetgewing geken moet word. 8.3.11 Die Tesourie is in wese die "Ministerie van Finansies" en as sulks oefen die Tesourie beheer uit oor die inkomste en uitgawe van die regering. Ten einde orde in die finansiële sake van die staat te waarborg en die konstitusionele beheer van die wetgewende gesag oor staatsfinansies te verseker, berus die kontrole en beheer oor finansiële beleid by die Minister van Finansies wat bygestaan word deur die Tesourie. Dit word nie nodig geag om hier in te gaan op die aktiwiteite van die Tesourie op finansiële of ekonomiese terrein soos, bv. die inskakeling van staatsuitgawes in die situasie van die volkshuishouding nie, maar word gewys op die aspek van tesouriebeheer oor staatsuitgawes in die tradisionele sin en meer spesifiek oor die aspekte van vooruitlopende beheer en na- begrotingsbeheer. 8.3.12 Wat die verantwoordelikheid van die Tesourie betref word die saak raak saamgevat deur ene Heath in sy boek "The Treasury"- "The Treasury may be shortly described as the Department which, subject to the control of the executive and to the authority of Parliament, is responsible for the administration of the public finances of the country. The Treasury is this by definition, as it were; in essence it is the one permanent institution which stands between the country and national bankruptcy" 8.3.13 Dit lê voor die hand dat die Tesourie oor uitgebreide funksies moet beskik, ook ten opsigte van die uitoefening van vooruitlopende beheer oor die beoogde bestedings deur die ander departemente. Voortspruitend uit die konstitusionele grondreël dat die Wetgewende Vergadering gelde vir besteding moet bewillig, is dit nodig dat die uitvoerende gesag (die kabinet) jaarliks die goedkeuring van die Wetgewende Vergadering moet verkry om uitgawes op beoogde dienste aan te gaan. Dit spreek vanself dat 'n ongekoördineerde, verwarrende en selfs chaotiese toestand sou ontstaan indien elke departement se begroting afsonderlik aan die Wetgewende Vergadering voorgelê sou word. Hier is dit dus die funksie van die Minister van Finansies en die Tesourie om as tussenganger tussen die departemente en die Wetgewende Vergadering op te tree en die finansiële behoeftes van die departemente in 'n gekonsolideerde, rasioneel-beplande en insiggewende vorm aan die Wetgewende Vergadering voor te lê. In die finale ontleding dus is die begroting die begroting van die Tesourie en nie van die onderskeie departemente nie. 8.4.14 Die taak van die Tesourie is verreweg nie afgehandel by die koördinering van die begroting nie. Feit is dat die totale fondsebenodigdhede van departemente in die lig van die gemeenskap se behoeftes altyd groter is as die beskikbare middele. 'n Verwarrende toestand sou dus ook kon ontstaan indien die Tesourie as sentrale finansiële owerheid nie vooruitlopende beheer oor die aanvraag vir fondse van departemente uitoefen nie. Die tradisionele begrotingsbeheer deur die Tesourie reduseer sigself dan tot 'n belangrike funksie, t.w. die oorweging van die meriete en die prioriteitsorde van die verskillende dienste wat deur die onderskeie departemente vir insluiting in die begroting voorgelê is. 8.4.15 Om die Tesourie in staat te stel om die keuringsproses behoorlik te kan doen, is dit nodig dat 'n spesifieke diens volledig gemotiveer moet word. Waar die Tesourie die begrotingsvoorstelle van departemente afkeur of besnoeiings aanbring of waar hy aanbeveel dat die Kabinet dit doen, geskied dit op grond van die feit dat hy uit die aard van sy funksies op hoogte van sake is met betrekking tot die verwagte finansiële posisie van die Regering en nie omdat hy op 'n ander departement se terrein wil oortree nie. 8.3.16 Opsommenderwys vervul die Tesourie dus in hierdie konteks die rol van finansiële adviseur en sekretariaat omdat hy die begroting opstel onder direkte gesag van die Minister van Finansies en die kabinet en is dit die Kabinet as die regering-van-die-dag wat die uitvoerende gesag se finansiële behoeftes aan die Wetgewende Vergadering moet voorlê. B) Na-begrotingsbeheer 8.3.17 Wat die funksies en bevoegdhede met betrekking tot na-begrotingsbeheer oor uitgawes betref, word die vraag dikwels gestel waarom en wanneer is voorafgaande Tesourie-goedkeuring vir uitgawes nodig nadat fondse vir 'n besondere diens reeds op die begroting voorsien is en die begroting deur die Wetgewende Vergadering goedgekeur is. 8.3.18 In die eerste plaas spreek dit vanself dat dit vir die Wetgewende Vergadering prakties onmoontlik is om die fynere besonderhede van die verskeie departemente se beraamde uitgawes wat deur middel van die gedrukte begroting aan hom voorgelê word, te beheer. Tweedens is dit so by wet neergelê dat die Wetgewende Vergadering se goedkeuring van die begroting van uitgawes bloot die maksimum bedrag aandui wat aan die verskillende gespesifiseerde dienste daarin vervat, bestee mag word. Goedkeuring van die departementele begrotingsposte verleen dus as sodanig nog geen magtiging om enige bestedings aan te gaan nie. 8.3.19 Wanneer die Wetgewende Vergadering 'n begrotingswet goedkeur aanvaar hy dus dat alle bestedings deur 'n statutêre of ander magtiging deur die bevoegde gesag gedek sal word en dit word aan die Tesourie en die Ouditeur-generaal opgedra om lopende beheer oor die detail van departementele bestedinge uit te oefen. Die Tesourie moet dan ook uit hoofde van sy posisie as sentrale finansiële owerheid, koördinerend optree ten einde eenvormige optrede en standaarde dwarsdeur die regeringsdiens te handhaaf of te sorg dat afwykings van die norm geregverdig is. 8.3.20 In alle gevalle waar uitgawes nie deur wetgewing, regulasies, instruksies of staande magtigings gedek word nie moet spesifieke tesouriegoedkeurings daarvoor verkry word. Die metode waarvolgens gedetailleerde tesouriebeheer uitgeoefen word, is daarop gemik om die doeltreffende finansiële administrasie te bevorder en om onnodige aansoeke om goedkeuring sover doenlik uit te skakel. Die breë grondslag daarvan is kortliks soos volg: 8.3.20.1 STAANDE TESOURIE MAGTIGINGS Die grootste gedeelte van uitgawes ressorteer hieronder. Uitgawes ten opsigte van administratiewe uitgawes soos salarisse, reis-en-verblyf toelaes, ens. word in omvatttende kodes wat met tesouriegoedkeuring uitgereik is, vervat. 8.3.20.2 STILSWYENDE TESOURIEGOEDKEURING Oor die algemeen kan aanvaar word dat onderhewig aan algemene voorskrifte (bv. tenderraad vereistes) tesourie-goedkeuring nie nodig is vir normale wederkerende dienste waarvoor dieselfde soort toerusting of uitgawes jaarliks uit globaalbeskikbaargestelde fondse aangekoop of aangegaan word nie, met ander woorde vir normale benodigdhede. Waar spesiale uitrusting aangekoop moet word of 'n ongewone uitgawe aangegaan moet word, moet tesouriegoedkeuring verkry word. 8.3.20.3 DELEGASIE VAN TESOURIEBEVOEGHEDE AAN DEPARTEMENTSHOOFDE Sekere finansiële regulasies magtig die Tesourie om na goeddunke in spesiale omstandighede bepaalde bevoegdhede aan departementshoofde en ander beamptes te delegeer en ten einde die voorlegging van roetine en wederkerende voorleggings te voorkom is daar oor die jare ruim van hierdie bepalings gebruik gemaak. 8.3.20.4 INDIVIDUELE VOORLEGGINGS AAN DIE TESOURIE Hierdie tipe aansoek is nodig indien 'n departement iets wat buitengewoon of van nie-standaardaard wil aanpak of 'n buitengewone finansiële reëling wil tref en dus ongewone verpligtings wil aangaan. 8.3.21 DIE DEPARTEMENTELE REKENPLIGTIGE AMPTENAAR In die voorgeskrewe woordbepaling beteken "Rekenpligtige Amptenaar" 'n persoon wat werklik belas is met die verantwoording van 'n diens waarvoor in 'n begrotingswet voorsiening gemaak is of enige persoon aan wie uitbetalings uit die skatkis gedoen word (Uiteraard is die hoof van die Departement dié persoon). Feit is natuurlik dat die aanvraag om geld sy oorsprong in die departemente het en dit is daar waar die geld wat bewillig word, bestee word. Dit volg derhalwe dat aanspreeklikheid om verantwoording aan die Parlement te doen by die departement berus. Aangesien dit die wese van aanspreeklikheid is dat slegs een persoon verantwoordelik moet wees om rekenskap te gee van die departement se rentmeesterskap, berus die aanspreeklikheid by die rekenpligtige amptenaar. 8.3.22 Hy is deur bemiddeling van die Gekose Komitee oor Openbare Rekeninge verantwoordelik vir die finansiële administrasie van sy departement. Waar finansies 'n element by die oorweging van alle beleidsake is, moet hy as departementshoof, as 'n voorvereiste vir doeltreffende en ekonomiese administrasie, toesien dat finansiële oorwegings te alle tye in aanmerking geneem word by die opstel en uitvoering van beslissings wat voortspruit uit beleid. Uit die aard van die saak begin beheer oor uitgawes by die voorbereiding van die begroting en gevolglik dra hy 'n groot verantwoordelikheid in verband met begrotings van uitgawes en inkomste wat uiteindelik aan die Wetgewende Vergadering voorgelê word. Hy maak natuurlik staat op die toegewydheid en lojaliteit van lede van sy personeel en in besonder op sy departementele rekenmeester en sy personeel. 8.3.23 Soos afgelei kan word het dit hier grotendeels gegaan om die handhawing deur die Wetgewende Vergadering van beheer oor die geld wat hy bewillig en die aspek van grondwetlike beheer en word daar nie ingegaan op die prosedures wat gevolg word met die finansiering van die groot verskeidenheid dienste wat die regering uitvoer nie. So word byvoorbeeld gedink aan die jaarlikse begrotingsiklus met al sy vertakkings, implikasies en komplikasies. 8.3.24 Wat die na-begrotingsbeheer oor uitgawes en die invordering van inkomste betref, gaan dit natuurlik veral om die aspek van lopende beheer van die kant van die betrokke departement deur middel van die streng nakoming van regulasies en voorgeskrewe prosedures. In hierdie proses gaan dit dan ook om stelsels (bv. die boekhoudingstelsel) wat oor jare ontwikkel en aangepas is en wat veral effektief is wat die oogmerke van finansiële en administratiewe beheer en die handhawing van kontinuïteit betref. 8.3.25 Alhoewel die Tesourie eksterne beheer uitoefen en die Ouditeur-generaal ook in die proses van lopende beheer betrek word, berus finale aanspreeklikheid primêr by die departemente. Feit is natuurlik dat die mees doeltreffende beheer ter plaatse uitgeoefen kan word, d.w.s. by die punt waar uitgawes finaal goedgekeur word, by die uitvoering van die diens en wanneer betaling geskied. 8.3.26 FINANSIERING VAN INKOMSTEFONDS VAN DIE VOLKSTAAT 8.3.26.1 Die handhawing van Afrikaner identiteit in 'n volkstaat stel veral twee fundamentele vereistes naamlik (a) die behoud van selfbeskikking en (b) goeie interstaatlike verhoudings in Suidelike Afrika (veral die RSA) en in 'n wyer konteks, in 'n steeds krimpende wêreld. Dit lê dus voor die hand dat die grootste mate van finansiële selfstandigheid 'n deurslaggewende faktor in die skepping en voortbestaan van 'n volkstaat sal wees ten einde enige ongunstige kritiek oor die raadsaamheid van die skepping van 'n eie geestelike vaderland vir die Afrikaner te voorkom. Sodoende word 'n stewige grondslag in plaaslike en internasionale beleggingsvertroue gelê wat vanweë sy rimpelingseffek bydra tot die omvattende ontwikkeling van die staat. 8.3.26.2 Wat in die aanvangstadium van die stigting van die Volkstaat betref, dien daar in gedagte gehou te word dat uitgawe wat moontlik in die beoogde volkstaatgebied aangegaan word deur die betrokke owerheidsinstansies in enige tydpunt na die totstandkoming van die Volkstaat maar voordat inkomste uit die bepaalde bronne in die inkomstefonds van die volkstaat inbetaal word, gedek moet word uit die bron waaruit dit gedek sou gewees het as die Volkstaat nie tot stand gekom het nie. 8.3.26.3 Vanaf die datum (gewoonlik die begin van 'n boekjaar) van die skepping van 'n Inkomstefonds vir die Volkstaat, word alle inkomste uit bronne soos in wetgewing bepaal, in sodanige fonds inbetaal. (Die wette hierby betrokke sou wees die wet op die status van die Volkstaat wat deur die Regering van die RSA aangeneem staan te word en wat die gebied tot 'n soewereine en onafhanklike staat verklaar en/of die grondwet van die Volkstaat). Inkomste wat aldus in die fonds inbetaal word, is onder meer direkte belastings, heffings en gelde opgelê kragtens wetsbepalings bv. inkomstebelasting betaalbaar deur individue en maatskappye en alle inkomste soos lisensiegelde, huurgelde, ens. verkry uit die loop van die administrasie van aangeleenthede wat binne die bestek van die gesag en bevoegdhede van die volkstaatregering val. Indirekte belastings (insluitende doeane en aksynsbelasting) wat uit sodanige volkstaat aan die skatkis van die RSA toeval, sal ingevolge die formele ooreenkoms aan die Volkstaat betaal word. Die beskouing in hierdie verband is dat 'n staat wetlik slegs indirekte belastings op goedere en dienste binne sy eie regsgebied kan hef. Dit is natuurlik ook wenslik dat die Volkstaat alle fiskale inkomstes ontvang waarop hy volgens gesonde staatsfinansiële beginsels aanspraak kan maak. 8.3.26.4 Afhangende van die finansiële posisie en drakrag van die Volkstaat is dit moontlik dat die dienste en pligte wat die volkstaatregering moet uitvoer of behartig nie uit eie bestaande bronne gefinansier kan word nie en dat finansiële bystand van die kant van die RSA verleen moet word ten einde 'n drastiese bekrimping van dienste of andersyds die oplegging van buiten- verhouding hoë belastings in die staat te voorkom. Gevolglik sal voorsiening gemaak moet word vir die betaling van 'n jaarlikse toekenning deur die RSA aan die Volkstaat wat in ooreenstemming is met die uitgawe van die regering van die RSA gedurende die jaar voor onafhanklikheid aan die Volkstaat verleen is ten opsigte van aangeleenthede waarvan die administrasie aan die Volkstaat oorgedra is. Die bedrag van sodanige toekenning is dan onderhewig aan vermindering ten opsigte van die inkomste wat in die jaar voor oordrag die skatkis van die RSA toegeval het en wat dan die inkomstefonds toeval. (Hier gaan dit om die uitgawes, beide direk en indirek, en inkomste wat voortspruit uit die werksaamhede van die verskeie staatsinstansies (provinsiaal, streeks- en sentrale regeringsinstansies asook para- statale organisasies) 8.3.26.5Die verskeidenheid van pligte wat voortvloei uit die verlening van onafhanklikheid en die daarmee gepaardgaande bestuursmagte aan die Volksraad bring natuurlik bykomende uitgawes mee wat nie in aanmerking geneem is of kan word met die bepaling van die bovermelde jaarlikse toekenning nie, bv. die funksies van die Betaalmeester-generaal, die bou van staatskantore, geriewe vir 'n Wetgewende Vergadering, en vir die regsbedelingfunksies. Die betaling van sodanige addisionele finansiële hulp is regverdigbaar op grond van algemene geregtigheid asook die verwagte gesonde interstaatlike verhoudings tussen die RSA en die Volkstaat. 8.3.26.6 Feit is dat ons hier, in teenstelling met voorbeelde uit die dae van die voormalige koloniale moonthede, te make het met 'n ordelike en planmatige proses van onafhanklikwording; inderdaad iets unieks. In die kern en in die lig van geskiedkundige verwikkelinge het ons hier te make met 'n sonderlinge intervolkere verhouding en gaan dit in die finale instansie om die ontwikkeling van 'n produktiewe en vreedsame naasbestaan tussen die RSA en 'n onafhanklike volkstaat wat geografies, ekonomies en histories ineengestrengel is. Gesien die gemeenskaplike belange en die nou bande tussen die twee state gaan dit nie bloot om normale interstaatlike verhoudings nie maar om noue samewerking op alle terreine en hulp- verlening of advies oor die breë spektrum van gebiedsadministrasie en -ontwikkeling binne die raamwerk van 'n konfederatiewe staatsbestel. 8.4 ALGEMENE SAKE Aangeleenthede wat met betrekking tot finansies in hierdie verband van primêre belang is, is o.m.: 8.4.1 Voorsiening sal in die grondwet gemaak word vir 8.4.1.1 bewilliging van betalings uit die Inkomstefonds deur die Wetgewende Vergadering 8.4.1.2 vereistes vir die onttrekking van gelde uit die Inkomstefonds 8.4.1.3 die jaarlikse begroting van uitgawes en inkomste 8.4.1.4 die ouditering van boeke en rekenings van die staat. 8.4.2 Wetlike voorsiening dat alle regte en verpligtings kragtens konvensies, verdrae of ander soortgelyke ooreenkoms wat voor die inwerkingtreding van die grondwet op die Regering van die RSA (ten opsigte van die volkstaatgebied) bindend was, regte en verpligtinge van die Volkstaat word. (Natuurlik op 'n grondslag van bevestiging na onderhandelings tussen betrokke instansies) 8.4.3 Verskeie van die tientalle (ongeveer 80) bi-laterale interstaatlike ooreenkomste tussen die RSA en die beoogde Volkstaat het in variërende mate, direkte of indirekte finansiële implikasies. Voorbeelde hiervan is onder meer soos volg: 8.4.3.1 'n Ooreenkoms wat ten doel het dat die bank en ander fasiliteite in die Volkstaat nie ontwrig word en daardeur ongerief vir volkstaatburgers veroorsaak nie. So 'n ooreenkoms maak daarvoor voorsiening dat ten opsigte van finansiële instellings, te wete bankinstellings, bouverenigings, versekeraars, pensioenfondse, onderlinge hulpverenigings, deelnemingsverbandskemas en effektetrustskemas wat in die RSA ingevolge wette van die RSA geregistreer is en wat ook in die Volkstaat sake doen onmiddellik voor die onafhanklikwording van die Volkstaat, word onderling ooreengekom tussen die twee Regerings dat elke sodanige finansiële instelling geag word geregistreer te wees ingevolge 'n toepaslike wet van die Volkstaat en toegelaat word om sy bedrywighede in die Volkstaat voort te sit so lank as dit in die RSA geregistreer bly en totdat dit werklik geregistreer word ingevolge sodanige wet van die Volkstaat of sy registrasie kragtens sodanige wet geweier word. 8.4.3.2 'n Ooreenkoms betreffende voortgesette deelname deur die Volkstaat aan bestaande en nuwe termynkontrakte aangegaan deur die Staatstenderraad van die RSA. 8.4.3.3 'n Ooreenkoms met betrekking tot die monetêre verhoudings tussen die RSA en die Volkstaat waarin onder meer bepaal word dat deviesebeheerbepalings van die rand- monetêre gebied van krag bly in die Volkstaat. Dié ooreenkoms het dan te make met die kompleksiteit van vreemde valutatransaksies. 8.4.3.4 'n Ooreenkoms met betrekking tot samewerking op die gebiede van prospektering en mynbou. 8.4.4 Die daarstelling van 'n soewerein onafhanklike Volkstaat sal uiteraard vereis dat wetlike voorsiening deur die Regering van die RSA gemaak sal moet word vir die oordrag van grond en ander eiendom in die Volkstaat waarvan die eiendomsreg berus by of verkry is deur die Regering van die Republiek van Suid-Afrika of 'n provinsiale administrasie t.w., dat dit berus by of oorgedra word aan die regering van die Volkstaat. Daar word aanvaar dat die betrokke grond of ander eiendomme sonder betaling van hereregte, seëlreg of enige ander geld of koste by die regering van die Volkstaat sal berus maar onderworpe aan enige bestaande las of verpligting op sodanige eiendom. 8.5 AANGAAN VAN LENINGS Die instansies wat hier volg, benewens die oorsese moondhede wat die Volkstaat goedgesind is, kan seker as moontlike bronne vir die beskikbaarstelling van ontwikkelingshulp in een of ander vorm aan 'n volkstaat as lid van 'n konfederale bestel in Suid-Afrika, beskou word. Gesien die belangrikheid van streng finansiële dissipline in die volkshuishouding sal daar natuurlik toegesien word dat lenings beperk word om te voorkom dat uitermate hoë eise aan die Volkstaat se vermoë om sy leningsverpligtinge na te kom, gestel word; die situasie waarin verskeie state in Afrika hulle bevind. Hier met ander woorde moet daarteen gewaak word dat die regering nie in die sogenaamde skuldstrik vasgevang word nie waar hy geld moet leen om rente op bestaande skuld te kan delg. Voorts moet ook in gedagte gehou word dat 'n gedeelte van lenings van ander moondhede ook ter dekking van waarborge wat voorsien moet word, aangewend word (bv. in die geval van lenings uit die VSA) 8.5.1 "DEVELOPMENT BANK OF SOUTHERN AFRICA" Die primêre funksie van die Bank is om lenings, tegniese hulp en advies vir lewensvatbare ontwikkelingsprojekte te mobiliseer en te voorsien. Die Bank se werksaamhede is egter nie beperk tot projek-finansiering nie want dit het in toenemende mate betrokke geraak by strategiese ontwikkelings- en beleidsprosesse in verskeie opsigte. 8.5.2 DIE WêRELDBANK Die Wêreldbank (met sy tientalle lidlande) se verwante liggame het veral een sentrale doelwit nl. om ekonomiese en maatskaplike vooruitgang in ontwikkelende lande te bevorder. Daar word ook met private beleggers wêreldwyd saamgewerk en in kommersiële ondernemings in ontwikkelende lande belê. Dit moedig ook onderlinge beleggings tussen lidlande en veral in ontwikkelende lande aan. Die Bank onderneem ook intensiewe studies ter bevordering van sy taak om lidlande van advies te bedien met betrekking tot beleid en om onderwys en inheemse navorsing te ondersteun. 8.5.3 DIE INTERNASIONALE MONETêREFONDS Die vernaamste oogmerke van die IMF is die bevordering van internasionale monetêre samewerking, die ewewigtige uitbreiding van die internasionale handel en stabiliteit in wisselkoerse. Die Fonds voorsien korttermyn finansies en tegniese hulp aan ekonomies agtergeblewe lande ten einde gesonde ontwikkeling van hulle monetêre instellings te bevorder. 8.6 MONETêRE EN FISKALE BELEID Fundamentele riglyne in die verband is soos volg: 8.6.1 'n Monetêre stelsel moet gerig word op die gelykmaking van die bo en onderpunte van die konjunktuur en om die waarde van die geldeenheid sover moontlik te beskerm, inflasie te beperk en onsekerhede sover moontlik uit te skakel. 8.6.2 Die fiskale beleid moet daarop ingestel wees om te voorsien in die finansiële behoeftes van die Staat en kan ook aangewend word om inflasie te bekamp. 8.6.3 Die Staat moet dissipline aan die dag lê om sodoende sy uitgawes te beperk, ten einde so min moontlik finansiële middele uit die gemeenskap te onttrek. 8.6.4 Belastings moet gehef word op so 'n wyse dat die burgery dit as regverdig ervaar, wat daartoe sal lei dat belastingontduiking beperk kan word en voldoende middele in die hande van die persoon gelaat kan word om hom in staat te stel om te bespaar en sodoende in inkomstegewende produksiemiddele te kan belê. 8.6.5 Persoonlike en veral inkomstebelasting moet sover moontlik beperk en eerder op indirekte belasting gekonsentreer word. Die betaling van inkomstebelasting werk nadelig in op entrepreneurskap aangesien die burger die persepsie ontwikkel dat hy beboet word omdat hy hard werk en inisiatief aan die dag lê. 8.6.6 Daar moet daarteen gewaak word om groot en lomp burokratiese instellings te skep. Daar moet 'n kultuur geskep word dat hierdie instellings in diens van die gemeenskap staan, dat hulle dus gemeenskapsgerig moet wees. 8.6.7 'n Beleid moet aanvaar word waarkragtens die stigting van konglomorate ontmoedig word en die skepping van monopolieë teengewerk word. Alhoewel dit soms in die praktyk gebeur dat groot besighede in sekere sfere beter presteer is dit dikwels ook so dat konglomorate in 'n groot mate die werking van die markmeganisme kan versteur. 8.6.8 Privaatbesit, kompetisie en 'n doeltreffende prysmeganisme is die hoekstene waarop 'n gesonde ekonomie gebou word. 8.7 BELASTINGS IN 'N SOEWEREINE VOLKSREPUBLIEK 8.7.1 Vanaf die datum van totstandkoming van die Volksrepubliek (binne die raamwerk van 'n konfederale bestel) sal daar 'n Staatsinkomstefonds geskep word waarin alle inkomste wat deur die regering van die Volksrepubliek gehef word of wat aan hom toeval, gestort word. Dit sluit in : 8.3.1.1 Alle gelde betaalbaar deur burgers e.a. ten opsigte van belastings, heffings en gelde opgelê kragtens wetgewing van die RSA ten opsigte van die gebied van die Volksrepubliek en wat voorheen aan die regering van die RSA toegeval het; 8.3.1.2 alle gelde betaalbaar ingevolge 'n wet of ordonnansie deur maatskapye wat in die gebied bestuur en beheer word en 8.3.1.3 alle inkomste met inbegrip van lisensiegelde, belastings, kantoorgelde, boetes, verbeurings en enige ander gelde verkry uit die loop van die administrasie van die gebied van die Volksrepubliek. 8.3.2 Die wetlike bepalings van die RSA ingevolge waarvan die belastings, ens. voortaan aan die Volksrepubliek toeval sal natuurlik na goeddunke deur die onafhanklike Volksrepubliek gewysig of herroep mag word. 8.3.3 Bepalende faktore op die terrein van finansiering van die Staatsinkomstefonds sal o.m. wees, die finansiële behoeftes van die Volksrepubliek, die ekonomiese drakrag van die Volksrepubliek en die finansiële vermoë van sy mense. 8.3.4 Daar moet wat die staatshuishouding van die Volksrepubliek en die heffing van belasting betref in gedagte gehou word dat die behoeftes van die bevolking te alle tye die beskikbare middels oorskry; 'n fundamentele beginsel wat na verwagting, blykens aanduidings, nie allerweë aanvaar gaan word nie. 8.3.5 Riglyne vir die heffing van belastings in 'n eie volksrepubliek Die inkomste wat die Volksrepubliek toeval sal bestaan uit direkte en indirekte belasting. 8.3.5.1 Direkte Belasting Direkte Belasting kan gehef word by wyse van belasting op inkomste van persone, maatskappye, buitelandse aandeelhouers, onverdeelde winste, boedels, geskenke, kopbelasting, grondbelasting, ens.. Direkte belasting het veral een baie belangrike nadelige uitwerking wat daarin geleë is dat dit wesenlik 'n belasting op welvaart is en derhalwe neig om inisiatief en ekonomiese groei te demp en aan bande te lê. Aan die ander kant het dit die voordeel dat behalwe vir kopbelasting, belasting tot 'n groot mate gehef word op hulle wat die vermoeë het om te betaal en tot die inkomste van die Volksrepubliek by te dra. 8.3.5.2 Indirekte Belasting Indirekte belasting is belasting soos bv. A.V.B., B.T.W., aksynsbelasting, doeane regte, hereregte, seëlregte, lisensies, heffings op brandstof ens. Die voordeel van die heffing van hierdie soort belasting is daarin geleë dat die burger tot in groot mate die keuse gelaat word om 'n bepaalde handeling te verrig of nie te verrig nie en derhalwe deels bepaal of hy belastingaanspreeklikiheid wil aangaan al dan nie. Hierdie belasting hou nie verband met welvaart of die vermoë om te betaal nie en dus ook nie met inisiatief en produksie nie. Dit werk dus nie erg dempend op die ekonomie nie en lê nie ekonomiese groei en welvaartskepping in dieselfde mate as direkte belasting aan bande nie. Aan die ander kant het dit die nadeel dat armes en rykes gelyk behandel word. Die strewe moet dus wees om 'n belastingstelsel in werking te stel wat die voordele van beide metodes van belastingheffing maksimaal benut terwyl die nadele tot die minimum beperk word. 'n Verantwoordelike regering in die Volksrepubliek sal dus bedag moet wees op die stelsel van belastingvordering maar ook op die koers van beide vorme. 'n Kultuur van belastingbetaling as plig en voorreg kan slegs geskep word waar 'n hoofsaaklik homogene bevolking tot stand gebring word en die belasting-pligtige betaling van belasting ervaar as 'n opoffering tot sy of sy volksgenote se voordeel. 8.8 SLOT Daar moet allerweë aanvaar word dat die verkryging van onafhanklikheid in 'n soewereine Volkstaat ook op finansiële gebied hoë eise aan die Boere-Afrikaner en sy ander burgers en ondersteuners sal stel; veral ten opsigte van fondse, mannekrag en dienste. Van primêre belang is dat daar begryp moet word dat daar nie 'n wondermiddel is vir die skepping van 'n lewensvatbare en selfstandige staat nie. Die evolusionêre proses van die ontwikkeling van 'n selfwerksame en vooruitstrewende gemeenskap vereis inspanning en volharding oor die langtermyn en dit sal van die volk verwag word om progressief by te dra tot die skepping van 'n self- onderhoudende volkstaat.