KONSEP VIR AFRIKANERSELFBESKIKKING OP PLAASLIKE REGERINGSVLAK IN DIE GROTER PRETORIA GEBIED.

A     INLEIDING:

Ingevolge die bepalings van artikel 235 van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika ( Wet 108 van 1996), waarvolgens 'n gemeenskap wat 'n gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, selfbeskikking binne 'n territoriale entiteit kan beoefen, is dit die doel van hierdie dokument om aan te toon hoe om, tesame met verskillende ander metodes

a) binne die raamwerk van bestaande wetgewing en

b) met inagneming van die strukture wat reeds op plaaslike regeringsvlak bestaan

'n vertrekpunt daar te stel om selfbeskikking vir die Afrikaner BINNE die bestaande staatkundige bestel te verkry. Onderhandelinge met die regering sal vinniger konkrete resultate lewer indien voorstelle vir Afrikanerselfbeskikking binne bestaande Wetgewing en Strukture plaasvind.

Plaaslike regering is die vlak van regering wat die naaste aan die inwoner is en is by uitnemendheid die gebied of terrein waar eie kultuur die sterkste gevoel en die sterkste beskerm en bevorder moet word. Om dit te vermag, is dit nodig dat sekere verdere magte en bevoegdhede aan plaaslike regering toegestaan word. Sommige van hierdie bevoegdhede moet oorspronklik wees en ander kan, vanwee finansiele, staatkundige en ander implikasies, konkurent met of die sentrale of die provinsiale regering wees.

Die gedagte om plaaslike regering as vertrekpunt te gebruik, kan met groot vrug verder ontwikkel word omdat dit binne die raamwerk van 'n federalistiese stelsel of konfederalisme, die kern van EIE regering kan uitmaak, terwyl ander vlakke van regering slegs daardie aspekte, wat noodwendig op nasionale vlak berus, hanteer. Dit sal deur 'n proses van ontwikkeling geskied.

Om 'n aanduiding te gee hoe die voorstelle vervat in hierdie dokument inpas by bestaande wetgewing en reeds bestaande owerheidstrukture, word vervolgens 'n ontleding gegee van plaaslike regering en die geoormerkte gebied soos dit tans daaruit sien en dien die voorstelle as 'n aanpassing daarvan.

Daar moet egter met groot erns kennis geneem word van die voorneme van die Regering om huidige wetgewing ten opsigte van plaaslike regering ingrypend te verander ten einde aan dit 'n groter "Afrika" karakter te verleen.

Daar bestaan verskeie aksies om selfbeskikking vir die Afrikaner in verskillende geografiese gebiede, sowel as op kulturele terrein te verkry. Hierdie konsep word deur die opstellers as prakties uitvoerbaar beskou en daar word gekonsentreer op 'n gebied wat breedweg omskryf word as Verwoerdburg, die Oostelike Pretoria, (insluitende 'n gedeelte van die Moot) asook die aangrensende landelike gebied ten ooste van Pretoria.

B    VISIE

Om bemagtiging op plaaslike regeringsvlak in die oostelike gedeelte van die Groter Pretoria Metropolitaanse gebied en aanliggende landelike gebiede te verkry.

C     AGTERGROND

1. Oogmerke en pligte van plaaslike owerhede.

Huidig is die oogmerke en pligte van plaaslike regering soos uiteengesit in art. 152 en 153 van die Grondwet,1996 (Wet 108 van 1996) die volgende:

'n Munisipaliteit moet:

 

2.     Struktureel

2.1 Bestaande strukture:

a) Die stedelike gebied van die groter Pretoria bestaan uit vier politieke strukture, nl. die Groter Pretoria Metropolitaanse Raad as oorkoepelende liggaam met drie metropolitaanse plaaslike owerhede, nl. Pretoria, Centurion en Tswaing (Akasia en Soshanguve)

b) Die landelike gebied staan onder beheer van die Oostelike Diensteraad.

2.2 Bestaande Wetgewing:

Wetgewing wat 'n invloed op plaaslike regering het, sluit veral die volgende in:

- Die Grondwet (Wet 108 van 1996)

- Die Oorgangswet op Plaaslike Regering, 1993 (Wet 209 van 1993)

- Die Ordonnansie op Plaaslike Bestuur, 1939 (Ord. 19 van 1939)

- Die Ordonnansie op Dorpe en Dorpsbeplanning 1986

- Die Ordonnansie op Eiendomsbelasting van Plaaslike Besture 1976.

2.3 Beplande Wetgewing:

Die regering beoog drastiese wysigings aan die Oorgangswet op Plaaslike Regering en 'n "Werksdokument" in hierdie verband is reeds gepubliseer. Kommentaar moes reeds daarop gelewer gewees het. Na verwagting sal 'n groenskrif in hierdie verband gedurende September 1997 verskyn.

Die ANC beoog skynbaar om een mega gesagstruktuur in plaas van verskeie plaaslike owerhede vir Pretoria daar te stel. Moontlik sal die uitvoerende gesag van Raadslede ook uitgebrei word.

 

3.    Rolspelers

Die rolspelers bestaan uit politieke partye en inwonerbelangegroepe wat aan die politieke proses deel neem (bv. deur plaaslike verkiesings) en nie-regeringsinstansies wat beinvloedend op die politieke proses inwerk. In die groter Pretoria gebied is die rolspelers hoofsaaklik die volgende:

a) Politieke partye

b) Deelnemende inwonerbelangegroepe:

c) Nie-regeringsinstansies:

 

4. Bevoegdhede en Funksies van Plaaslike Owerhede

4.1 Wetgewende bevoegdhede

Sowel die Groter Pretoria Metropolitaanse Owerheid as die Metropolitaanse Plaaslike Owerhede beskik oor die bevoegdheid om wetgewing in die vorm van Verordeninge af te kondig oor sake wat by hulle tuis hoort. Hierdie wetgewing mag egter nie onbestaanbaar met sentrale- of provinsiale wetgewing wees nie. Hierdie bevoegdheid word aan plaaslike regering ingevolge art. 156 van die Grondwet (Wet 108 van 1996) toegeken, asook art. 80 van die Ordonnansie op Plaaslike Bestuur 1939 soos gewysig.

4.2 Uitvoerende Bevoegdhede

Al die bogenoemde instellings beskik oor uitvoerende bevoegdhede, wat tot gevolg het daar daar reeds sterk infra-struktuur ontwikkel het en 'n bepaalde amptenary beskikbaar is. Hierdie bevoegdheid word aan plaaslike regering ingevolge art. 156 van die Grondwet 1996 (Wet 108 van 1996) toegeken.

4.3 Finansiële bevoegdhede

Inkomste word deur plaaslike owerhede verkry uit

a) die heffing van eiendomsbelasting, heffings vir dienste soos elektrisiteit, water, riool, reinigings- en gesondheidsdienste, oordragbetalings op die heffing van motorlisensiegelde, subsidies ens.

b) toekennings deur die nasionale en provinsiale regerings.

Dit is belangrik om daarop te let dat plaaslike regering slegs inkomste kan verkry uit bronne wat deur die provinsiale- en sentraleregering aan hom toegeken word. Daar mag nie inkomste deur 'n plaaslike regering ingesamel word by wyse van inkomste belasting of BTW nie. Volgens die Grondwet moet daar egter 'n billike verdeling wees tussen die nasionale, provinsiale en plaaslike regeringsfeer van inkomste wat nasionaal ingevorder word.

Verskeie artikels (214, 215, 217, 227, 229) van die Grondwet,1996 (Wet 108 van 1996) asook art 10G van die Oorgangswet op Plaaslike Regering, 1993 (Wet 209 van 1993) verleen aan plaaslike regering die nodige bevoegdhede in hierdie verband.

 

5. Gebiedsbeskrywing (grense,demografie,geografie)

5.1 Grense

Grense van die huidige groter Pretoria Metropolitaanse gebied, wat die drie metropolitaanse plaaslike regerings insluit, word aangedui op kaart ......

5.2 Demografie

Die demografie van die geoormerkte gebied vir 'n Afrikaner-substruktuur toon 'n meerderheid van Afrikaners vir die gebied. Die nie-Afrikaners in hierdie gebied, bestaan hoofsaaklik uit Engelssprekendes.

Verwoerdburg: 69 350 (66%) Afrikaners

35 003 (33%) Nie-Afrikaners

Wonderboom: 73 078 (68%) Afrikaners

34 474 (32%) Nie-Afrikaners

Pretoria-Oos: 48 003 (63%) Afrikaners

(Tussen N1 & N4) 29 600 (37%) Nie-Afrikaans

5.3 Geografie

Natuurlike kenmerke speel nie 'n rol by die huidige samestelling van die politieke indelings wat in die gebied aan getref word nie.

5.4 Ekonomie

Die GPMO-gebied beskik oor swaar en ligte nywerhede, handelsinstellings, 'n sterk openbare sektor en privaat maatskapye.

 

6. Beplanning

Die Pretoria-Oos gebied (die 10% van Pretoria tussen die N1 en N4) word tot die jaar 2020 gereserveer vir hoe inkomste behuising en daar is 'n algehele afwesigheid van beplanning vir nywerheidsontwikkeling.

 

7. Tendense

Weens die toenemende stedelike verval van die stadskern, ontstaan 'n toenemende neiging tot die skepping van handels- en besigheidsnodes in veral die Oostelike gedeeltes van Pretoria

 

8. Gesindheid van Inwoners

Volgens 'n meningsopname wat in 1995 deur Opdatum Opnames in die Hooglandgebied om Pretoria gehou is onder mense van alle taalgroepe en wat deur prof. L.Schlemmer geevalueer is, was die gesindheid van die respondente soos volg:

Ten gunste van 'n volkstaat 73%

Ja, selfs met opoffering 30%

Ja, gekwalifiseerd, selfs met opoffering 6%

Ja, maar waarskynlik nie opoffer daarvoor nie 37%

Nie ten gunste van 'n Volkstaat nie 27%

Ondersteun nie, maar sal nie opponeer nie 11%

Ondersteun nie, mag opponeer 9%

Sal dit opponeer 7%

 

D. SAMEVATTENDE GEVOLGTREKKING

Die ontleding wat hierbo gedoen is, lei tot die gevolgtrekking dat indien 'n plaaslike regeringstelsel vir die Afrikaner in die Verwoerdburg/Oostelike Pretoria gebied ontwikkel word, dit kan plaasvind binne raamwerk van bestaande wetgewing en bestaande strukture. Die enigste wesentlike verandering wat moet plaasvind is om die grense van die bestaande metropolitaanse regeringstrukture te herrangskik.

 

E. VOORSTEL VIR AFRIKANERSELFBESKIKKING OP PLAASLIKE REGERINGSVLAK.

Ten einde 'n konsep te formuleer, wat op die voorafgaande gebaseer is, word die volgende voorstel geformuleer:

 

1. Missie

a) om demokratiese en verantwoordingspligtige regering op plaaslike vlak aan Afrikaner gemeenskappe te voorsien en betrokkenheid te bevorder

b) om op plaaslike regeringsvlak voorsiening te maak vir die regte van minderhede soos voorsiening gemaak in die Grondwet

c) om maksimum oorspronklike - en waar nodig konkurente bevoegdhede op plaaslike regeringsvlak uit te oefen

d) om saam te werk met aanliggende strukture en instellings.

 

2. Strukture

Uitgangspunte: 'n Staatkundige proses word ontwikkel wat beide die bestaande en nie-regeringstrukture insluit en wat van die plaaslike- tot die sentrale regeringsvlak ontwikkel.

Strukturering: a) Die Groter Pretoria Metropolitaanse Raad bly behoue in sy huidige formaat, samestelling en funksies, maar moet 'n koordinerende eerder as 'n oorkoepelende rol speel.

b) Metropolitaanse Plaaslike Owerheid: Hierdie strukture bly behoue, behalwe dat die grense daarvan en die bevoegdhede aangepas word.

c) Nie-regeringsbelangegroepe: Die rol wat hierdie groepe in die plaaslike regeringsproses speel moet uitgebrei word en veral kultuurbelange bevorder en beskerm.

d) Waar nodig kan kultuurrade in besonder ook vir die Afrikaner tot stand gebring word. Die nodige wetgewing moet voorberei word. Voorkeur moet aan vrywillige nie-statutêre Afrikaner kultuurrade gegee word wat in tussen tot stand kan kom. Die magte en funksies van sulke organisasies word self bepaal met in agneming van die Grondwet.

3. Bevoegdhede en funksies

Die bevoegdhede en funksies van die beoogde plaaslike regering is soos volg:

a) om daardie bevoegdhede en funksies wat ingevolge die Grondwet 1996 (Wet 108 van 1996) en die Oorgangswet op Plaalike regering 1993 (Wet 209 van 1993) aan plaalike regering toegeken word, uit te oefen.

b) om die volgende addisionele bevoegdhede uit te oefen:

4. Finansiering

a) Toekennings (Nasionaal en Provinsiaal)

b) Belastings

c) Lenings

d) Heffings - dienste (water, elektrisiteit, sport en ontspanning en kulturele fasiliteite)

Bogenoemde bronne van inkomste bly van toepassing maar sal voortdurend aangepas en uitgebrei moet word.

 

F.    AKSIESTAPPE

1. Hierdie konsep dokument word met verskillende Afrikaner organisasies bespreek en aangepas.

2. 'n Verteenwoordigende kommittee vir Afrikaners in die gebied moet tot stand kom om die proses te bestuur.

3. Sodra genoegsame konsensus bereik is, word die met ander rolspelers bespreek, in besonder die ANC.

4. Indien 'n skikking bereik word, moet 'n proses van implementering plaasvind.

a) Aanpassing van grense in samewerking met plaaslike owerhede.

b) Opstel, goedkeuring en implementering van wetgewing

 

(hoogland: 25 Augustus 1997)