Hoogland-aksie

Doel, visie, grondslag, funksies en uitvoering

Strategie hoogland

'n Referendum onder Afrikaners

Staatkundige plan

Hoe moet kulturele en territoriale selfbeskikking geskied

Konsep vir Afrikanerselfbeskikking op plaaslike regeringsvlak in die groter Pretoria gebied.

Konkretisering van selfbeskikking van die Afrikaner

Hooglandaksie : Belangesektor : plaaslike regering

'n Antwoord op besware ten opsigte van die meerderheidsgebied (Hoogland)

Kaart: Grafiese voorstelling van hoogland gebied

Inleiding

Na die verskyning van die Volkstaatraad se verslae het die Vereniging van Oranjewerkers die inisiatief geneem om deur middel van wye betrokkenheid van grondvlak af aandag te probeer skenk aan die ontwikkeling en bemagtiging van die meerderheidsgebied van Boere-Afrikaners soos in die verslag aangedui. Die amptelike stigting van die Hooglandaksie het op 5 Oktober 1996 plaasgevind by die geskiedkundige Rooihuiskraal feesterrein in Verwoerdburg.

Vertrekpunte vir 'n toekomsplan

Dit is nie meer moontlik om, soos gedurende die 19de eeu, van probleme soos die interaksie patrone met swartes, kleurlinge, Indiërs en Engelse te ontkom nie. Dit is 'n uitgediende denkwyse. Afrikaners/Boere is deel van Afrika en moet hulle daarbinne handhaaf. Wie dit nie aanvaar nie, is uit voelkng met die werklikheid. Eie vryheid en identiteit moet binne hierdie konteks - met die nodige selfrespek, eie-verantwoordelikheid en verdraagsaamheid - nagestreef word sonder om boedel oor te gee.

Daarom moet die bestaande werklikheid met sy veelkantigheid en ingewikkeldhede as vertrekpunt geneem word. Oorvereenvoudigings werk nie meer in die rekenaar en tegnologiese eeu nie. 'n Veelkantige probleem vereis 'n veelkantige oplossing. Daarom moet veral op sosio-ekonomiese terrein kennis geneem word van die verstedelikingsproses en op poitiek-staatkundige terrein van die magsoorname van 1994 - beide prosesse bevat sekere onomkeerbare elemente.

Die ordening van indiwidue, gemeenskappe en volke en ander samelewingsproeperinge moet vanuit hierdie benadering beskou, beplan en bestuur word. Dit beteken dat dwang nie meer as metodiek aangewend kan word nie en dat verskillende keuses noodwendig erken moet word.

Die bestaande vestigings- en kontakpatrone moet as grondslag dien. Daar bestaan geen eksklusiewe Afrikanergebiede in Suid-Afrka nie, slegs grade van konsentrasie, dit geld ook vir meeste ander gemeenskappe. Dit is tans in Suid-Afrika dus slegs moontlik dat 'n volk of gemeenskap die meerderheid van die bevolking van 'n spesifieke gebied kan uitmaak. Die klem moet gevolglik geplaas word op die identifisering en bemagtiging van Afrikaner-konsentrasies. Groeipunte of mikrogebiede binne so 'n staat of state kan wel 'n eksklusiewe bevolkingsamestelling hê en as hartland fungeer. As voorbeeld van so 'n hartland kan die Verwoerdburg en Pretoria-Oos gebied beding word. Ons herhaal: konsentrasie en nie isolasie nie, moet die wagwoord wees.

'n Srategie van ontwikkeling van Suid-Afrika binne die groot wêreldgeheel, selfs gekoppel aan 'n soort Marshallplan, kan ook langs hierdie weg voorsiening maak vir unieke mikro- en streeksontwikkeling.

Toepaslike rekonstruksie en transformasie moet in Suid-Afrika nie net as 'n eensydige proses ten gunste van die swart meerderheid bedryf word nie, maar ook ten gunste van Afrikaners in die gebiede waar hulle die meerderheid van die bevolking uitmaak en op selfbeskikking aanspraak maak.

'n Realistiese verdeling van die belastingbasis is ook nodig om vir beide die besondere sowel as die algemene behoeftes binne Suid-Afrika voorsiening te maak.

Benutting en daarstelling van infrastruktuur kan deur ondehandeling tot voordeel van besondere streke/state hanteer word terwyl die gesamentlike benutting en verantwoordelikheid ook die nodige aandag kry.

Erkenning moet steeds verkry word vir die volkskap van daardie gemeenskappe wat daarop aanspraak maak en die toepassing daarvan moet verseker word.

Die voorgestelde Hooglandgebied versoen juis hierdie ingewikkelde reeks vertrekpunte met die Afrikanervolk se nasionale wil om spoedig konkrete resultate te verseker.

Teikengebied

Hoogland_klein.gif (18049 bytes) 

Die Hooglandgebied is die grootste Afrikaner konsentrasiegebied in Suid-Afrika en daarom is dit as toespitsingsgebied geidentifiseer.

Hoogland huisves tans sowat 1 miljoen Afrikaners en sowat 700 000 nie-Afrikaners. Die Afrikaners van die gebied is hoofsaaklik verstedelik en is in verbinding met die landelike dele oos en noordwes van die metropolitaanse gebied.

Al die aangeduide dorpe behalwe Delmas lê op die grens van die gebied. Dit kan dus in of uit of gedeeltelik ingesluit word. Dit beslaan 'n gebied wat minder as 2% van Suid-Afrika se oppervlakte uitmaak.

Hoogland is 'n uitstekende landbougebied. Die belangrikste produkte is mielies en ander graan terwyl beesboerdery, tabak, hoender en groente-boerdery ook algemeen voorkom. Die gebied het 'n potensiële voedselproduksie van tot sewe ton per hektaar per jaar.

Wat minerale betref, beskik Hoogland oor baie groot bronne van steenkool asook kleiner, maar ontginbare, bronne van diamante, klei, kalksteen, dolomiet titanium, vanadium, chroom, platinum, kobalt en swael.

Wat water betref, lê of grens vier groot damme in of op die grense van die Hooglandgebied, naamlik die Hartebeespoortdam, die Vaaldam, die Witbankdam en die Middelburgdam. Die gebied vorm ook 'n belangrike deel van die opvangsgebied van die Vaal- en Limpoporiviere. Die gemiddelde reënval en benutbare afloop is heelwat hoër as die gemiddelde syfer vir die RSA.

Hoogland is goed toegerus met spoorlyne en paaie wat die gebied met al die sentra in die RSA en met die Ooskus, Mosambiek en Swaziland verbind. Die gebied se kragvoorsiening is volop en goedkoop in vergelyking met die res van die land.

Hoogland is 'n ekonomies kragtige gebied en Afrikaners in die gebied het in die 1995/96 boekjaar 'n geskatte 35 miljard rand aan inkomste verdien.

Die belangrikste is egter die nasionale wil tot vryheid en Afrikaners in die gebied het in verskeie vorige verkiesings hul oorwegende steun aan selfbeskikking toegesê. Hulle is afstammelinge van die Voortrekkers en Boere van ouds en sal hulle nie in onderhorigheid berus nie.

Hoogland kan baie voordelig saamwerk met ander dele van Suid-Afrika.