'N ANTWOORD OP BESWARE TEN OPSIGTE VAN DIE MEERDERHEIDSGEBIED (HOOGLAND)

Beswaar 1

Die Pretoria-gebied het nie grense nie en verdeel provinsies en dorpe.

Antwoord

Dit is onmoontlik om enige moderne staat se grense heeltemal langs natuurlike grense te trek. Grense word ook grootliks onderhandel. As die betrokkenes voordele behaal as die probleem besleg kan word, word dikwels heeltemal onnatuurlike grense getrek. Daarby is die gebied volgens moderne beskouing glad nie so onnatuurlik nie. Moderne staatsvorming behoef nie meer die afgesonderdheid soos in die verlede nie, eerder die konsentrasie van mense. Die bestaande provinsies word nie so aangetas dat hulle nie kan voortbestaan nie. Plaaslike gemeenskappe behoort hulle demokratiese reg oor in- of uitsluiting in elk geval te kan uitoefen. Sakekerne en nywerheidsgebiede kan anders hanteer word as woon- of landelike gebiede - dit is reeds grootliks uitgesluit. Laastens is grense glad nie so rigied en eksklusief nie, veral nie ten opsigte van ekonomiese werklikhede nie.

Beswaar 2

Daar is nie 'n Afrikaner-meerderheidsgebied nie.

Antwoord

Daar is wel so 'n gebied soos deur die VSR aangedui. Indien nodig kan verdere aanpassing van die grense gedoen word. Volgens die '91 Sensus is daar ongeveer 1 000 000 Afrikaners in die gebied en 700 000 volksvreemdes.

Beswaar 3

Die swartes gaan nog meer verstedelik en die Pretoria-gebied lê in die hoofstroom daarvan.

Antwoord

Die tendens van verstedeliking van die swartes is reeds duidelik ten opsigte van konsentrasie. Die aangeduide gebied het dit reeds in aanmerking geneem en die gebiede ingesluit waar daar 'n historiese en natuurlike gebrek aan konsentrasies van vreemdes is. Daarby moet eie ontwikkeling met rekonstruksie en reformasie ten gunste van Afrikaners in die Hooglandgebied plaasvind soos dit toepaslik vir ander in Suid-Afrika geskied.

Beswaar 4

Die meerderheid in die Pretoria-gebied ondersteun nie 'n volkstaat nie. Die meningspeiling was slegs onder Afrikaners.

Antwoord

Dit is 'n hipotese. Daarom is dit nodig om so spoedig moontlik 'n referendum in die gebied te hou. Dit moet in stemburo's en stemdistrikte ingedeel word. 'n Inligtingsaksie moet geloods word. Die verskillende stemburo's en distrikte se uitslae moet gebruik word om ondersteuning aan te dui. Daardeur behoort 'n gebied met 'n Afrikanermeerderheid verkry te word. Indien dit nie gebeur nie, moet/kan die Quebec-opsie gebruik word om later weer 'n referendum te hou.

Dit behoort ook aanvaarbaar te wees om 'n gebied met noemenswaardige steun te erken wat deur rekonstruksie ontwikkel kan word tot 'n voldoende meerderheidsgebied. Daar kan 'n quid-pro-quo tussen tussen rekonstruksie in die gebiede vir die swartes en die gebiede vir die Boere-Afrikaner getref word.

Beswaar 5

Die gebied is polities onbedingbaar by die ANC. 'n Provinsie in die Noorde is reeds verwerp.

Antwoord

Die ANC verwerp die volkstaat per se. Hulle sal slegs 'n volkstaat/selfbeskikking toelaat as die Boere-Afrikaner genoegsaam saamstaan en sy bedingbare wil en vermoë bewys. Daarby sal die ANC die maklikste opsie wil erken, maar terselfdertyd moet die breë Boere Afrikaner volkswil tevrede gestel word anders is die probleem nie opgelos nie. Tussen dié parameters moet 'n realistiese antwoord verkry word.

Beswaar 6

Die Pretoria-gebied is deel van die politieke, administratiewe, ekonomiese en sosiale eenheid.

Antwoord

Uit die historiese ontwikkeling van Suid-Afrika is dit inderdaad so. By fynere ontleding sal gemerk word dat die grootste deel van Gauteng en die sake- asook administratiewe kern van Pretoria juis nie ingesluit is nie. Dit is 'n groot offer van die Boere-Afrikaner.

Verder kan met die regte gesindheid en reëlings ten opsigte van harde dienste verder gevorder word om die probleem te oorkom. Gebruikmaking van gemeenskaplike infrastruktuur is veral in 'n oorgangstyd baie moontlik en selfs wenslik. Soepelheid is die wagwoord.

Die swartes se strewe na die verwerping van apartheid, die blink ligte van die stad en die strewe na vooruitgang kan gepaar word met Afrikaner vryheid en identiteitshandhawing. Korridor-ontwikkeling en erkenning van minderheidsregte - wedersyds - kan ook baie help.

AJ de Beer

1996-08-13