BOERE-BITTEREINDER: PROJEK 1000

Aangeheg is 'n skrywe wat met dank vanaf Kmdt Willem Ratte ontvang is.

Soos reeds voorheen genoem kan die Balmoral projek menslik gesproke net slaag as ten minste 1000 Boere-volksgenote weer die Voortrekkergees van ons voorgeslagte openbaar en lede van die BRKB word.

Daar is tans meer as 100 lede en die ledevergadering van 2 Augustus 1997 het die besluit geneem, en plegtig onderneem, dat elke lid voor 1 November '97 ten minste 10 ander lede sal werf.

Dit word ook weer onder u aandag gebring dat daar op die eerste Saterdag van elke maand om 10:00 'n inligtingsvergadering plaasvind. Bring gerus belangstellendes en u voltooide aansoekvorms na die geleentheid saam.

Die besluit is ook geneem dat die eerste 100 lede se erwe bo-op die bergrant van die plaas Suidwes afgebaken en toegeken sal word. 'n Dankdiens word beplan vir Vrydagaand 10 Oktober 1997, waarna daar saam uitgekamp sal word, en die erwe op Saterdag 11 Oktober in ontvangs geneem sal word.

Boeregroete
__________________
Fritz Meyer
VOORSITTER


VOORLEGGING : 30 Julie 1997

Aan : DIE DIREKSIE, BOERE REPUBLIEK (KOOPERATIEF) BEPERK
Van : Willem Ratte

INLEIDING EN DOEL

1. Baie dankie vir die vertroue wat u in my stel. Ek weet nie of ek dit kan regverdig nie, maar ek sal, DV, my bes probeer om n bydrae te lewer tot n brief, wat lede en moontlike voornemende lede kan inlig omtrent die kooperasie en hulle kan oortuig van die noodsaaklikheid en belang van betrokkenheid by, en uitbreiding van, ons kooperasie.

BESTEK

2. Die volgende punte sal aangespreek word :

a. Motivering tot bestek.

b. Voorstelle ivm Konsep Manifes.

c. Voorstelle ivm Ledebrief.

MOTIVERING TOT BESTEK

3. U het sekere spesifieke punte aangeroer. Ek het dit goed gedink om in my reaksie op n groter spektrum binne die gegewe missie (mooi woord, ne) in te gaan, om drie redes :

a. Ons moet ons mense kan oortuig, veral die wat baie noukeurig kyk na wat ons se en doen.

b. Wat ons nou bou rondom die kooperasie, moet ons bou vir ons self EN vir ons kinders, maar ook vir ons God en ons volk.

c. Veral in hierdie dae van n in sommige opsigte baie moeiliker en ingewikkelder vryheidstryd mag ons nie ons kring te nou trek nie. Ons hoef maar net te kyk na die name op die ererol van die Eerste en
die Tweede Vryheidsoorlog ...

LW : Ek vertrou u sal begrip he vir bogenoemde en ek hoop u stem saam.

VOORSTELLE IVM KONSEP MANIFES

4. Hier onder my hand le die Konsep Manifes van die BRKB, soos deur u aan my voorsien. Om aan die doel te kan voldoen, sal ek nie huiwer om heilige koeie aan te vat nie en u moet my dit asseblief nie kwalik neem nie. Oor my trou aan die saak, die beginsels en die doel van die kooperasie behoort daar nie by u twyfel te bestaan nie. Die mi belangrike gebreke en/of moontlikhede ter verbetering sal hieronder een vir een uiteengesit word. My insette is grootliks gebaseer op wat u in u konsep-manifes uitspel. Weens die dringendheid vand die saak en die gebrek aan tyd sal ek deurgaans so spoedig moontlik reguit oorgaan tot die kern en konkrete voorstelle. Uit die aard van die saak sal u kommentaar daarop weer deur my op prys
gestel word, wanneer u ook al tyd daarvoor kan inruim.

5. ALGEMEEN. Ons het, in ons volkslewe die afgelope tyd, te doen gekry met baie gedagtes, ideale, oproepe, projekte, organisasies, manifeste, take en bewegings, - sommige vals of teen-produktief, ander goed. Die geheim sal wees om, soos die geykte aanhaling van Oom Paul se, uit te haal dit wat goed is en daarop voort te bou, maar ook om te sorg dat dit, wat ons aanbied, sal uitstaan as enig in sy soort en oortuigend in sy aanbieding. Om hieraan te voldoen, kan ons mi die hele "Konsep Manifes" vervang met n baie korter en kragtiger :

KONSEP HANDVES

Boere Republiek (Kooperasie) Beperk

6. INHOUD : (Voorstel:) Geskiedenis, Missie of Doel, Christelike Grondslag, Volkereg, Volksbeginsels, Organisasie, Statute, Grond, Vestiging, Werk, Finansies en Afsluiting :

a. GESKIEDENIS. (Voorstel:) Vir die derde maal in ons geskiedenis is ons hele volk in ons hele land onregmatiglik sy vryheid, karakter en veiligheid deur ons vyande ontneem, en word ons onderwerp aan onder- drukking, onreg en volksmoord. Al hoe meer van ons mans, vrouens en kinders, oud en jonk, word vertrap, verneder, verontreg, belas, mis-
bruik, vermoor, doodgeslaan, beledig, vervolg, verkrag, beroof, besteel, en weerloos aan n vreemde, onregverdige en barbaarse bestel uitgelewer. Ons is slawe en lakeie in ons Vadere se eie huis.

b. MISSIE (of Doel).

(Ons kan nie hier insit om te verootmoedig nie. Ons het nie n plaas nodig om te kan verootmoedig nie, ek kan bv baie beter hier in n tronksel verootmoedig. Die punt word aangespreek onder (c).) (n Doel of missie moet kort en kragtig wees, net : Wie, wat, waar, wanneer en hoe. Dis dit.)

(Voorstel:) Die BRKB wil wettiglik grond binne die grense van ons vader- land bekom en sodanig hanteer, dat dit, DV, tot n outonome magsbasis vir die her-oprigting van n vrye Boere-Republiek sal ontwikkel deur :

- enersyds soveel as moontlik volksgenote daar te vestig, en hulle en hulle kinders en hulle kindskinders as vryburgers met selfrespek n onafhanklike, eerbare en veilige bestaan te laat voer;

- en andersyds soveel as moontlik volksgenote daarbuite in te bind in hierdie deurslaggewende nasionale her-opbou met goeie skakeling, n netwerk van steunpunte ter onderlinge versterking en verdediging, die doeltreffende groepering van ons verskillende mense en bronne, hulle sinvolle taking en handelinge ter bereiking van ons doel, die inoefening van noodsituasies binne n gebeurlikheidsplan, asook begeesterde volksfeeste, -herdenkings, en nie-gewelddadige verset-aksies teen die huidige onreg en onderdrukking.

Ons onderneem om hierdie missie uit te voer binne die raamwerk van die beginsels van die Volkereg, goeie buurmanskap met ander volkere rondom ons, noue samewerking met soortgelyke volksaksies en -herlewing elders in die land, en bowenal gebaseer op die wil van die Drie-Enige God van alle Christene en die Bybel.

(Hier het ek nou gepoog om alle oogmerke, soos vervat in die konsep manifes, so kort en kragtig as moontlik saam te vat, - ook, onder andere, om onsself te dwing om dit heeltyd in gedagte te kan hou, werk daarvan te maak en nie van die kern van die saak af te wyk nie. Die beperkings in die laaste gedeelte maak ons (regtens) onaantasbaar, sover moontlik, en lei ons reguit na die volgende belangrike grondslag:)

c. CHRISTELIKE GRONDSLAG. (Voorstel:)

Psalm 60, Vers 3 tot 7 : (Uitskryf).

Alles, wat die BRKB doen, moet gegrond wees op Sy wil en Sy Heilige Woord. Ons, die Boerevolk wat deur ons God hier in Afrika geplant is, en so wonderbaarlik by Bloedrivier en elders deur Hom bewaar is, het afgedwaal van Sy wee en Sy toorn verwek. Dawid se hier duidelik, wat Jesus self in die Nuwe Testament herhaaldelik aan ons voorhou, wat ons moet doen voordat Hy ons sal red :

Ons moet GOD vrees, en dus onsself voor Hom verootmoedig.

Ons moet vlug na die banier, wat HY ons gegee het. Dit is Sy 10 gebooie, en dit is juis die verbreking daarvan deur so n groot deel van ons volk wat Hom laat besluit het om ons te verstoot. Ons moet dus die tien
gebooie hou. En die grootste gebod is : "Jy moet die Here jou God lief- he met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand!", en die tweede : "Jy moet jou naaste liefhe soos jouself!".

d. VOLKEREG. (Voorstel:) Die BRKB onderneem om die volkereg, insoverre dit nie met sy Christelike grondslag bots nie, te eerbiedig.

(Enige land en regime, wat beskaafd wil voorkom en veral een wat van die beskaafde wereld afhanklik is, moet deesdae die basiese Volkereg erken. Ons vyande doen dit dus ook. In hierdie Handves (Handves = Regs- beginsels) kan ons dus gebruik maak van hierdie baie handige wapen, wat homself aanbied en wat, so terloops, in baie opsigte aan die kant
van die kleiner, onderdrukte volkere staan.)

(Voorstel:) Die Boerevolk is sy oorspronklike vryheid en soewereine onafhanklikheid tydens die Vrede van Vereniging ontneem met die uitdruklike veronderstelling, dat daar n blywende vredesooreenkoms met die BOERE later aangegaan sou word. Dit het nooit gebeur nie.

In 1994 is die ou Republiek van Suid-Afrika, waarin die Boere vreedsaam opgegaan het omdat daarbinne ten minste tot n mate erkenning verleen is aan die Boerevolk se nasionale aspirasies, onregmatiglik vernietig en is die Boerevolk en alle ander vryheidsliewende volkere van Suid-Afrika ongevraagd deur middel van n bekookte verkiesing en gemanipuleerde stem-getalle onderwerp aan n vreemde, gedwong-unitere staat. Talle bewyse kan hiervoor aangevoer word, soos die verslag van die Europese Unie se verkiesingsmonitors, die teenstrydighede tussen sensus-uitslae,en die geskiedenis van verset voor en na die onregmatige oorhandiging van die land.

Ingevolge die internasionale Volkereg kan ons dus die volgende minimum eise stel :

. Die beskerming van die Boerevolk se regte as n internasionaal erkende volk, sy lewensruimte en sy voortbestaan.

. n Behoorlike opname en registrasie van alle inwoners van die land, wat hulleself as Boere beskou en as sodanig aanvaar word.

. n Demokratiese verkiesing onder die Boerevolk, wat sal lei tot behoorlik verkose volksverteenwoordigers, wat dan n eie volks- verteenwoordigende liggaam kan saamstel.

. Die erkenning van die reg van sodanige volksverteenwoordigende liggaam om oor die toekoms van die Boerevolk te onderhandel met die volkere en nasies rondom ons.

e. VOLKSBEGINSELS. (Voorstel:) Die BRKB onderskryf die 1997 Vryheids- manifes van die Boere-Afrikaner Volk (wat tans in omloop is vanaf Andre Viljoen. Vir my maak dit nie saak hoe u die kind gedoop wil he nie ,solank ons dit nie die "Vryheidsmanifes van die Reenboognasie" noem nie...). Dit is verkrygbaar by ... (naam en telefoon) en ... (internet adres).

f. ORGANISASIE. (Voorstel:) Die BRKB funksioneer as n kooperasie, ingevolge die Kooperasie-Wet ... van ... . Lede verkies n Direksie van ... lede, wat jaarliks tydens die Algemene Jaarvergadering herkiesbaar gestel word, en wat op sy beurt n Dagbestuur van ... lede aanwys. Die huidige lede van die Direksie en Dagbestuur is soos volg : (Name) Die aangewese Ouditeur is : (Naam en telefoon).

(LW: INDIEN verhoorafwagtende gevangenskap geen beletsel is nie, en INDIEN u vroeere aanbod nog staan, en INDIEN dit enigsins tot voordeel van die BRKB kan strek, is ek bereid om ook amptelik betrokke te raak by hierdie mi belangrike saak. U sal net met my sekretaresse n afspraak moet maak vir n bespreking, en u samewerking aan my sekuriteits-personeel moet gee...)

g. STATUTE.

(Voorstel: n Baie kort uittreksel, gefokus op die belangrikste regte en pligte van n lid, asook die mees kritieke verantwoordelikhede van die Direksie. Ek is jammer, maar met my onlangse trekkery moes ek van my bagasie ontslae raak en my BRKB statute is nie hier by my nie.)

(LW : Ek wil baie sterk aanbeveel dat Direkteure nie enige fooie ontvang tot ten minste die eerste behoorlike Algemene Jaarvergadering, n behoorlike finansiele verslag, en die goedkeuring van sodanige vergadering nie.)

(Voorgestelde Slot-Paragraaf:) n Behoorlike afskrif van die volledige statute van die BKRB is beskikbaar by ... teen R... of teen inhandiging van n bewys van lidmaatskap.

h. GROND. (Voorstel:) Die begin en die voorsiene kern van die BRKB grond is rondom die historiese Konsentrasiekamp begraafplaas by Balmoral langs die N4 snelweg Pretoria-Witbank gelee, - n gepaste begin op tradisionele Boeregrond in n gesonde, vrugbare en goed gelee deel van ons mooi land. Die Here het Sy kant gebring.
Dit is oor na ons om te woeker met ons talente.

i. VESTIGING. (Voorstel:) Om te kan oorleef, moet ons laer trek. Gedagtig aan ons missie, val die klem op selfwerksaamheid. Ons doen, wat ons kan, met wat ons het. Terwyl bestaande geboue benut word, word nuwe vestigings en bykomende huise en strukture, onderworpe aan die kooperasie se standaarde en beplanning, sterk aangemoedig.
Sodra n stuk grond aan n lid toegeken is, word dit sy erfpag-eiendom volgens n wettige kontrak en die die bepalings van statuut ..., wat neerkom op n 59-jaar erfpag-stelsel, outomaties hernubaar en oordraagbaar van vader na seun. Solank n betrokke lid nie die BRKB se statute oortree nie, kan hierdie kontrak nie deur die kooperasie een-sydig opgese word nie.

(LW : Dis n voorstel, maar ons sal, mi, MOET iets in hierdie lyn aanbied, om eerstens weg te kom van enige "huurling" konnotasie, en tweedens werklik gemoedsrus te gee aan enige voornemende erfpag-eienaar.)

j. WERK. (Voorstel:) Enige lid, wat op BRKB grond woonagtig is, is verplig om sy produkte of dienste, van watter aard ook al, deur die kooperasie te bemark. Vir die wat buitekant woon, is dit vrywillig, maar dit word sterk aangemoedig. Hierdeur dra lede by tot die vooruitgang van die saak, en mik die BRKB na selfvoorsienendheid en uiteindelike finansiele onafhanklikheid. Werk beteken nie net landbou aktiwiteite nie, - daar is geen beperking op lede se inisiatief nie.

k. FINANSIES. (Voorstel:) Die BRKB is gebind deur middel van hierdie Handves, sy statute, goeie finansiele bestuur, deursigtige diens-, sake-, landbou- en nywerheidsmetodes en gereelde en behoorlike direkteurs- en lede-vergaderings, om n ope en gesonde onderneming ten bate van al sy lede en die volksaak te handhaaf. Ons almal se agtergrond, talente en vermoens mag verskil, en sal dus op verskillende wyse bydra tot ons almal se voordeel en die gemeenskaplike saak, -
maar ons is bitterlik gekant teen enige vorm van bevoordeling en onbehoorlike persoonlike gewin. Terwyl die moontlikheid van foute in n menslike organisasie nie uitgesluit kan word nie, verbind die BRKB homself plegtig tot regverdigheid en die Tweede Grootste Gebod, veral tussen lede onderling.

As n bykomende voorsorgmaatreel is n OMBUDSMAN aangestel, wat enige ernstige onreelmatigheid en wangedrag binne die BRKB, wat onder sy/haar aandag gebring word, sal ondersoek en skriftelike terugvoer aan die klaer/klaagster moet gee binne drie maande na ontvangs van die klagte. Die Ombudsman is : (Naam, adres en telefoon van n onkreukbare persoon)

l. AFSLUITING. (Voorstel:) Die BRKB maak op niks meer en niks minder nie aanspraak as op die erkende reg van lede van enige volk in die wereld, naamlik om as sodanige lede van ons eie volk te kan voortbestaan op grond binne ons vaderland, waar ons kan oorleef en veilig voel, n ekonomies onafhanklike bestaan kan voer, en na ons keuse, volgens ons Christelik-nasionale beginsels, ons eie gemeenskapslewe, opvoeding, sosiale en maatskaplike strukture kan inrig.

KOMMENTAAR. Lede en voornemende lede kan op die Konsep Handves kommentaar lewer. Ons is oop vir goeie insette.

VOORSTELLE IVM LEDEBRIEF

7. Om sekere insette te kan gee ter inligting en oortuiging van lede en voornemende lede, wat meer tydelik van aard is en nie onder n Handves tuisgebring kan word nie, word n kort ledebrief, as voorloper van n gereelde verskyning daarvan, as volg voorgestel :

(Voorstel:) BRKB LEDEBRIEF -vir lede en voornemende lede

AUGUSTUS 1997 : Hierdie maand geskryf deur Willem Ratte.

a. Die eerste grond vir die BRKB is by die historiese Konsentrasiekamp begraafplaas by Balmoral langs die N4 snelweg Pretoria-Witbank gekoop. Volgens plaaslike inwoners was die oorspronklike naam "Snotterbelle-fontein" ... Soos ek dit onthou, is dit tipies mooi, gesonde Trans-vaalse Hoeveld, waar plase, dorpies, myne, en die ryk erfenis van ons kort, maar bewoe Boeregeskiedenis letterlik binne loop-afstand wink. Dis Boere-wereld, met steeds n relatief hoe persentasie van ons eie mense in die gebied rondom.

b. Hoewel die aanvoerwerk verder terugle, het die BRKB eers werklik op die grond beslag gekry nadat ek verhuis het na my huidige hoe-sekuriteits akkomodasie, - danksy versiende volksgenote met durf en geloof, wat dit finansieel moontlik gemaak het. Alle eer aan hulle, en ek glo dit is nou ons plig, waar ons ook al is, om elkeen ons kant te bring om van hierdie, volgens my beskeie insig, kritieke Boere-bemagtigingsdaad n sukses te maak. Die pad na ons vryheid loop, onder andere, ook deur die tronk, - maar buite (en dit besef ons hier dalk beter) loop dit deur ondernemings soos wat die BRKB nou tot stand gebring het.

c. Die eerste lede is tans glo besig om hulleself daar op Snotter-watsenaam te vestig. Hulle moet doen, wat hulle kan, met wat hulle het. Hulle, en ons almal, is dankbaar vir wat bereik is en beskou die res as n uitdaging. Die volgende groot stap is die vestiging van n gesonde ekonomiese basis, tesame met die uitbreiding van lede getalle om n sterker magsbasis te skep.

d. Dit is uit die aard van die saak so, dat daar met so n grootse onderneming baie probleme en hindernisse sal opduik. n Mens beleef dit self en hoor ook van ander. Ek glo ons moet aanvaar, in hierdie tyd van nasionale krisis (om dit sagkens te stel), dat nie net ons vyande wigte sal indryf om ons te verdeel en so onder te hou nie, maar die omstandighede self nie juis maanskyn en rose vir ons almal sal wees nie. Solank ons vasklou aan dit, wat ons deur hierdie drif sal kan trek : Liefde aan God en trou aan mekaar. Indien ons in daardie gees met ons talente werk en bou aan n beter en veiliger toekoms,
sal Sy seen daarop rus.

e. Soos in enige groot uitdaging, met die pas afgelope geskiedenis van verraad en in hierdie klimaat van verdrukking, verdeeldheid en wanhoop,duik die vraag op : Kan dit werk? Die lys van moontlike redes, hoekom
dit kwansuis nie sal werk nie, is lank : Ons is te min, dis nie die regte tyd nie, daar is nie geld nie, ons mense is te sleg, ek hou nie van die of daai nie, daardie ou word bevoordeel, wat van die volks-vreemdes, alles is teen ons, ens, ens. In die lig van die gevaar, die bedreiging nie net van die volk as geheel nie maar van elke man, vrou en kind tot in hulle eie huis, egter, moet ons vir mekaar se : Dit MOET werk. Daar is geen ander alternatief tot die laer-trek opsie in tye van bedreiging deur barbaarse hordes nie, dit het ons voorouers al in 1838 uitgevind. En net soos Hy ons voorvaders toe bygestaan het,so glo ons sal Hy ons nou bystaan, indien ons bid, werk, en skouer aan die wiel sit.

f. Wat word NOU gedoen en beplan? Terwyl die eerste intrekkers huis opsit, le die prioriteit op twee vlakke :

-Binne hierdie eerste laer moet daar nou n bestaan gemaak word. Behalwe die ooglopende pionierswerk, soos bou, ploeg, plant ens, is daar reeds op die bestaande grond goeie sake- en werksgeleenthede, wat net wag vir die hardwerkende Boere entrepeneur met ondernemingsgees. Byvoorbeeld: Wat kan nie alles op so n strategies gelee plek langs n afrit op die
roete wildtuin toe gedoen word nie?!


-Buite moet daar tussen lede geskakel word (hierdie brief is n begin), en moet die voorgenome NETWERK uitgebou word, wat nie net na die laer se kant toe werk nie, maar ook na ons tans nog wydverspreide lede toe moet versterk, begeester en beskerm. Rome is nie in een dag gebou nie, maar ons kan, en moet, elke lid as n steunpunt beskou, wat verbind is aan ons struktuur, en wat nie net ander help oorleef en versterk nie, maar deur sy inskakeling en betrokkenheid ook self n beter kans op oorlewing en groei verkry. Dit sluit ook in EKONOMIESE BEMAGTIGING : Kan u dink wat ons kan regkry indien ons begin deur net n klein gedeelte van ons inkope elke maand BY MEKAAR te doen? KOM ONS ONDERSTEUN MEKAAR, - fisies, vir beskerming, ekonomies, geestelik, op alle terreine!
- Net soos in die tyd voor en tydens die Groot Trek, is ons elkeen op ons eie midde-in die vreemde hordes net n tragedie wat wag om te gebeur.
Oorlewing le in laertrek, figuurlik en letterlik!

U kan inskakel by die volgende groeperings: ... (WERKENDE aksies se kontakpersone met telefoon nommers).

-U insette is geweldig belangrik. Indien u self n vermoe het en n beter weg kan baan, of nie met iets saamstem nie, praat! Maar raak betrokke, asseblief.

Die volgende vryheidsaksies, waar ons fisies weer kan bymekaarkom, span bou en "gees vang" (soos ons as kinders gese het), is geskeduleer:
...

g. U vra dalk wat laat my instem om hierdie maand die lede-brief te skryf. Wel, ek is n lid, om mee te begin. Ek het nou die tyd, nommer twee. Ek het so pas, met n groot gesukkel, my woordverwerker hier gekry, nommer drie. Iemand moet daarmee begin, dit kan net sowel ek wees, nommer vier. Ek is mooi gevra (en dit het my belangrik laat voel), nommer vyf.En laaste, maar nie die minste nie, - ek glo in hierdie saak, soos dit uiteengesit is in die Handves. Ek kan regtig nie sien hoe ons anders in hierdie mooi land van ons kan oorleef onder Azaniese omstandighede nie. Tensy ons soos uitgewekenes in ons eie vaderland wil leef en ons kinders se toekoms hier prysgee nie.

h. U mag miskien ook vra of ek nie tans in die tronk toegesluit is nie. Ja, ek is. Lank voor enige verhoor en sonder borg-opsie, tot dusver. In n isolasie-sel, vir nou al ses maande. Ek is nie skaam daarvoor nie, hoegenaamd nie. Eerder trots. Dat die Azaniese staatsapparaat en sy lakeie so bang is vir my, EEN maer ou fossiel, dat hulle my nie eens onder ergste borgvoorwaardes wil uitlaat nie omdat hulle dink ek sal die hele groot "kakokrasie" van hulle kan omverwerp (dis waarop die hoof-klagte teen my neerkom, glo dit of nie), - dit gee my nie net n grootheidswaan nie, dit behoort aan u ook hoop te gee. Dan kan ons mosnie heeltemaal so sleg, en hulle nie heeltemaal so sterk wees as wat u dink nie... Dat ek nog steeds nie enigiets verkeerd gedoen het nie, hoef ek seker nie eers te se nie, dis tog eerder die norm met hierdie Azaniese skewe regstoepassing. Ek sal aanhou vir die landdros vra, indien ek die kans kry, wanneer sy regstelsel eendag my klagte van moord teen Nelson Mandela oor die Shell House slagting sal omskep in vervolging, wanneer Missies Mandela tereg sal staan oor die 10 (swart) jonges wat sy laat vermoor en oa in n mynskag laat afgooi het, wanneer die verraaiers en lakeie n slag van sameswering aangekla word ipv ons, en, en, en, - nee, ons mag nie stilbly daaroor nie, want DIS die grootste onreg in hierdie land, nie wat op Pomfret gebeur het of voor waaraan van ons lede uitgelewer is en wat hulle werk en gesinslewe belas. Ons kan seker lank gesels oor of dit die moeite werd is, ens, -maar het ons regtig n keuse, indien ons wil ontkom aan hierdie onder-drukking, onreg en volksmoord ? Die Citizen se bladsy 4 is vol van die, wat dit nog steeds nie wil glo nie. Niemand kan se ons het al die antwoorde nie (ek alles behalwe), maar hoe meer van ons aktief betrokke raak, hoe meer ons van mekaar leer en hoe meer ons mekaar se hande vat, hoe beter is ons kanse op sukses. Die BRKB staan of val nie met een of twee sogenaamde leiers, wat tans voorloop nie.

Dit staan of val by die lede, wat op die grond, letterlik en figuurlik, betrokke raak. Indien daar ooit n tyd was, waar ons sal gevra wordhoe goed ons met Sy talente gewoeker het aldan nie, is dit nou...

j. Om die doelwitte van die BRKB te verwesenlik ten bate van al sy lede, en ons volk, kan bitter moeilik word, - of baie maklik. Tot dusver voel dit vir die van ons, wat die verantwoordelikhede van baie fasette van ons Boere se Derde Vryheidsstryd op ons skouers geneem het, of ons rug wil knak, om nou heeltemaal eerlik te wees. Indien u nog nie betrokke is nie, wil u ons EN u eie saak nie help deur by ons aan te sluit nie? Indien u reeds betrokke is, wil u nie nog 5 ander nuwe lede werf nie? Met u hulp kan die huidige vryheidstryd, met die Here se genade, op die einde van die dag baie makliker wees as wat dit tans wil voorkom. - Wat sal dit wees?

k. Deurwinterde - en deursomerde - Boere het die BRKB in die lewe gebring.Die baba moet nou begin kruip...

Indien u wil lid kan word van die BRKB, waar kameraadskap nie net gepreek word nie, maar ook prakties uitgeleef word, skakel : ... (naam,tel en adres) vir inligting; - of vul meegaande aansoekvorm in en pos dit aan ... . Laat weet ons asseblief telefonies by ... , wanneer u so n aansoekvorm pos, indien moontlik.

Boeregroete,

(geteken)
Willem Ratte