BALMORAL KONSENTRASIEKAMPKERKHOF
Die was Boere Republiek Koöperatief beperk het gelukkig betyds ingespring en die konsentrasiekampkerkhof te Balmoral aangekoop. Ontwikkelaars was reeds in die proses om die grond te bekom en wou n snelweghotel en motorhawe daar oprig met die oog op die Mosambiek tolpad korridor. Die konsentrasiekamp is nou in Boerebesit en word besit deur die lede van die koöperasie. Nooit weer kan volksvreemdes ons erfenis daar vernietig nie !
n Baie suksesvolle program is ook aangebied tydens die Krugerdagfeesviering met n Erediens in die Balmoral skoolsaal, gelei deur Ds Britz van APK Wonderboom, en n gedenkdiens in die konsentrasiekampkerkhof op Saterdag 11 Oktober 1997.
In die Kerkhof is daar meer as 400 grafte van vrouens en kinders van die Boerevolk wat wreed gesterf het in die haglike omstandighede van die konsentrasiekampe van die Tweede Vryheidsoorlog. Geskiedenis leer ons dat die Britse magte die verskroeide aarde beleid en gepaardgaande konsentrasiekampe ingestel het om die Boere se vrouens, kinders en plase te vernietig. Meer as 27 000 Boere-vrouens en kinders het landswyd in 31 konsentrasiekampe as gevolg van mishandeling, wanvoeding, koue en siektes omgekom. Ongeveer 26 000 Boere-krygers is in ballingskap weggevoer na gevangekampe tydens die oorlog. n Gedenkmuur word tans daar beplan om behulpsaam te wees met die instandhouding van hierdie en ander konsentrasiekamp kerkhowe.
Lesers wat meer persoonlike en familie-inligting het oor die konsentrasiekampe word genooi om aan ons te skryf sodat die inligting aangeteken en bewaar kan word. Geskiedenisboeke word reeds so verander om ons Volk te geskiedenis uit te wis.
Onlangse media-artikels het berig dat Brittanje nou uiteindelik die afskuwelike wet wat hierdie dinge toegelaat het, van hul wetboek verwyder het. Die BRKB het ook op Vrydag 10 Oktober 1997 n eis aan die Britse Hoë Kommissaris in Pretoria bedien wat eis dat restitusie gedoen word en skadevergoeding aan die Boerevolk betaal moet word vir die wrede en lafhartige moord van ons onskuldige en ongewapende vrouens en kinders in die Tweede Vryheidsoorlog.
n Volledige gedenkprogram word beplan vir Saterdag die 13e Desember 1997 en alle belangstellendes word genooi om die Geloftes van die Boerevolk, Paardekraal en Bloedrivier te kom gedenk. n Komitee is ook gekies om saam te werk met die beplanning vir die 100 jarige Vryheidsoorlog Gedenkfees wat in 1999 n hoogtepunt sal bereik.
Kontak asseblief vir Louis Swanepoel by sel 082 923 4979 vir verdere inligting.