Hoofstuk 1
Die Tweede Vryheidsoorlog 1899 1902
Waarom dit gegaan het
Inleidend
Die Tweede Vryheidsoorlog wat die twee Boererepublieke die Zuid-Afrikaansche Republiek en die Oranje Vrijstaat teen die Britse empire geveg het, was 'n ingrypende gebeure in die bestaan van die Boerevolk. Dit het die selfstandige bestaan van die twee Boererepublieke wat na die Groot Trek ontstaan het, beëindig. Dit het in Mei 1902 inderdaad gelyk asof al die stryd, harde werk en opoffering van die voorafgaande ses dekades vir vryheid en vir 'n eie volksbestaan, tevergeefs was. Die oorlog het egter 'n magtige beweegrede geword om die vryheidstryd voort te sit, nie op milltêre vlak nie, maar op die politieke en kulturele vlak.
Die oorsaak van die oorlog
Die bestaan van die twee Boererepublieke in die hart van suidelike Afrika was vir die Engelse imperialiste, wat graag die hele vasteland van Afrika aan Engeland wou onderwerp, onaanvaarbaar. Die ontdekking van diamante en goud in Suid-Afrika het die begeerlikheid van die Boerebesit verhoog. In die ou ZAR het 'n groep geldmagnate, wat ryk geword het uit die diamante van Kimberley en die goud van die Witwatersrand, die Engelse hebsug aangeblaas.
Die Jameson-inval teen die einde van 1895, 'n poging van die Engelsgesinde geldmagnate om 'n opstand in Johannesburg deur die Uitlander-fortuinsoekers te bewerk, was in werklikheid 'n Britse oorlogsverklaring teen die Republieke. Daarna het 'n sameswering tussen die geldmagnate en die Engelse imperialiste onder leiding van sir Alfred Milner, die Britse Hoë Kommissaris in Suid-Afrika, alles in die werk gestel om 'n oorlog op die Boere af te dwing. Die propaganda-aanval was dat Engeland iets moes doen aan die "treurige lot" van die Uitlanders. Die werklike doel was om die goud van die ZAR vir Engeland te bekom en terselfdertyd die Boerevolk te vernietig.
Die oorlog breek uit
Ondanks politieke en diplomatieke onderhandelings, waar Milner steeds eise gestel het waaraan pres. Kruger nie sou kon voldoen sonder om die ZAR se onafhanklikheid prys te gee nie, het die spanning opgelaai. Milner het op oorlog afgestuur en gedurende 1899 begin om die Britse magte in Suid-Afrika aan te vul en op die grense van die Republieke saam te trek. Dit lei daartoe dat die ZAR op 9 Oktober 1899 'n ultimatum aan Engeland rig. Die ultimatum word verwerp en die Engelse meen dat die oorlog teen Kersfees 1899 oor sou wees.
So breek die oorlog op 11 Oktober 1899 uit. Dit was 'n oorlog wat die twee Republieke eintlik nie kon wen nie. Die Republieke het oor minder as 58 000 dienspligtige burgers - artilleriekorpse en polisiemagte inbegrepe - beskik wat uiteindelik bygestaan is deur sowat 2 000 buitelandse vrywilligers en ongeveer 5 000 Kaapse rebelle. Daarteenoor het Brittanje oor 'n leër van meer as 650 000 beroepsoldate beskik waarmee hy sy veroweringstogte kon voer. Die Boereregerings kon egter nie aan toegee dink nie want dan sou hulle alles waarvoor hulle en hulle voorouers gewerk en opgeoffer het, eerloos weggegee het.
Die verloop van die oorlog
Die groot stryd van die twee Boererepublieke, gevoer vir vryheid en vir reg, het in twee duidelike fases verloop. Die eerste fase was die "stellingoorlog" in Noord-Natal en aan die Westelike en die Suidelike fronte. In hierdie fase het die Boeremagte 'n reeks skitterende oorwinnings behaal. Hier kan verwys word na die veldslae by Stormberg op 10 Desember, Magersfontein op 11 Desember en Colenso op 15 Desember 1899. Die oorlog draai egter teen die Boere as genl. Buller op 27 Februarie 1900 deur die Boerelinies by Pietershoogte breek en die stryd in Natal wen én wanneer genl. Piet Cronjé dieselfde dag by Paardeberg met 4 000 man aan die Britse magte oorgee.
Daarna volg lord Roberts se triomfantlike opmars wanneer Bloemfontein op 13 Maart en Pretoria op 5 Junie 1900 deur die Engelse ingeneem word. Die Engelse is oortuig dat hulle die oorlog klaar gewen het en annekseer die twee Republieke. Daarom dreig hulle die burgers wat die oorlog voortsit dat hulle as rebelle behandel sal word terwyl diegene wat die stryd staak se lewe en besittings beveilig sal word.
So begin die tweede fase van die oorlog. Belangrik is dan die verskynsel van die hensopper, dit is burgers wat die stryd staak, oorgee en plaas toe gaan. Ongeveer 15 000 burgers n kwart van die Republikeinse strydmag lê gedurende die oorlog die wapen so neer. Uit hierdie hensopper-geledere kom die joiners na vore wat as National Scouts en andersins die wapen teen hulle eie mense opneem. Vooraanstaande burgers soos genls. Andries Cronjé van die ZAR en Piet de Wet van die OVS, tel onder hulle. Lamsakkigheid en verraad word die donker keersy van die vryheidstryd.
Die vasberadenes bittereinders - bly oor en begin met 'n beweeglikheidsoorlog waar kleiner kommando's die vyand aanval en met skitterende krygsvernuf dikwels die Britse troepe swaar verliese toedien. Dit is in hierdie fase van die oorlog dat lord Kitchener, in sy pogings om die beweeglike Boerekommando's lam te lê, die oorlog uitbrei. Met sy verskroeide aarde-beleid word Boere plaashuise grootskaals vernietig en die veestapel van die Boere doodgemaak. Die vegtende burgers se vrouens en kinders word in konsentrasiekampe aangehou waar, so lyk dit, 'n doelbewuste uitdelgingsbeleid gevoer word. In die konsentrasiekampe is meer as 26 000 vrouens en kinders oorlede. Ook hulle het die hoogste tol in die vryheidstryd betaal.
Gevolge
'n Merkwaardigheid van die oorlog is dat die groot heldefigure wat uit die oorlog na vore kom, nie die Engelse generaals is wat die oorlog wen nie. Die helde is Boeregeneraals soos genls. Koos de la Rey, Christiaan de Wet, Louis Botha, Christiaan Beyers, Kemp en andere. Boeredapperheid en krygsvernuf word beliggaam in manne soos kapt. Danie Theron. Boere-martelare is daar ook soos kapt. Gideon Scheepers wat kwansuis vanweë "oorlogsmisdade" doodgeskiet word en die Kaapse rebelle wat gevang word. Meer as 50 man sterf so aan die hand van Engeland se beuls.
So lewer die Vryheidsoorlog vir die Afrikaner 'n nuwe heldegalery, manne wat met doodsveragting en heldemoed die stryd voer vir vryheid en vaderland.
Die oorlog eindig op 31 Mei 1902 met die vrede van Vereeniging. Dan lê ongeveer 20 000 bittereinders die wapen neer. Ongeveer 20 000 burgers keer mettergaan van krygsgevangenskap terug terwyl 5 000 op die slagveld en elders hulle lewens neergelê het. Die Engelse verliese was hoog. 22 000 Engelse troepe het 'n graf in Suid-Afrika gevind.
n Wrang effek van die oorlog was dat 5464 joiners op 31 Mei 1902 die militêre stryd teen hulle eie mense en ideale gestaak het. En hiermee word n nuwe hoofstuk in ons volksgeskiedenis ingelui waarin skeure en barste voorkom selfs al is dit herhaaldelik toegesmeer. Dit is die kloof tussen Bittereinder en Hensopper. Hierdie verdeling is met die oorlog in ons volksgemoed ingebrand en het n blywende merk gelaat veral omdat verraad in die geledere van die hensoppers n vrugbare teelaarde gevind het.
Die oorlog en die manier waarop Brittanje die oorlog gevoer het, het die republikeinse tradisie en die vryheidsideaal eweneens diep in die hart van die Boerevolk ingebrand. Met geloof in die Drie-enige God, met taai volharding en onwrikbare deursettingsvermoë het die Boerevolk weer opgestaan en sy staanplek in sy vaderland herower.
Foto
Vergewe? Vergeet? Is dit maklik vergewe?
Die smarte, die angs het so baie gepla!
Die yster het gloeiend n merk vir die eeue
Gebrand op ons volk; en dié wond is te ná
Te ná aan ons hart, en te diep in ons lewe
C. Louis Leipoldt: In die Konsentrasiekamp