Laaste boodskap van President S. J. P. Kruger aan sy volk.

 

Gerig aan Generaal Louis Botha

Waarde Generaal,

Dit is ‘n groot voorreg om die ontvangs te kan erken van u kabelgram van 23 tot 25 Mei te Pretoria gehou is, aan my oorgedra word.

By alle treurigheid en leed wat my lot is, het hierdie groete my tot dankbaarheid gestem. En van ganser harte dank ek almal wat aan hul ou Staatspresident gedink het waar hulle saamgekom het om oor die hede en die toekoms te beraadslaag, en daardeur getoon het dat hulle die verlede nie vergeet het nie.

Want, wie hom ‘n toekoms wil skep, mag die verlede nie uit die oog verloor nie.

Daarom: Soek in die verlede al die goeie en skone wat daarin ontdek is, vorm daarna u ideaal en trag om vir die toekoms daardie ideaal te verwesenlik.

Dit is waar: Veel van wat opgebou is, is tans vernietig, verniel en gevalle. Maar met eenheid van wil en eenheid van kragte kan daar weer opgerig word wat tans in die stof le.

Dit stem my eweneens tot dankbaarheid om te sien dat die eenheid, die eendrag, by u heers.

Wat ek self nog daarvan sal aanskou of beleef, lê in Gods hand. Gebore onder die Engelse vlag, wens ek nie daaronder te sterf nie. Ek het geleer om by die bittere gedagte te berus dat ek as balling dat ek in die vreemde die oe sal sluit, byna heeltemal alleen, ver van bloedverwant en vriende wat ek waarskynlik nooit weer sal sien nie, ver van Afrikaanse bodem wat ek wellig nooit weer sal betree nie, ver van die land waaraan ek my lewe gewy het om dit vir die beskawing te open en waar ek ‘n eie nasie sien ontwikkel het.

Maar die bitterheid sal versag word as ek oortuiging kan bly koester dat die werk waarmee begin is, voorgesit sal word. Want dan sal die hoop en die verwagting dat die einde van die werk goed sal wees, my staande hou. So sy dit.

Uit die diepte van my hart groet ek u en die ganse volk.

Villas Des Prierriers 17,

Clarens(Vaud), Switserland, 29 Junie 1904.