VERWOERD VRYHEIDSOFFENSIEF

Posbus 52965
Wierdapark
0149

TEL NR (012) 653-1762
FAKS NR (012)654-6658

AGTERGROND OOR ONTSTAAN VAN NAAM "ROOIHUISKRAAL "

Ons het hierdie terrein vir vandag se verrigtinge gekies omdat dit juis betekenisvol is in die Afrikaner-Boerevolk se stryd om vryheid en onafhanklikheid.

Die Eerste Vryheidsoorlog is veroorsaak deur die anneksasie van die Zuid-Afrikaansche Republiek deur Brittanje op 12 April 1877. Teenoor die vrywillige en selfs verraderlike oorgawe van die ZAR deur die Burgers-regering, vind mens die volgehoue verset vanuit die Boeregeledere. Hierdie weerstand het hoofsaaklik onder leiding van Paul Kruger gestaan.

Uit die versetaksie volg dan spoedig die Eerste Vryheidsdeputasie, bestaande uit Kruger, Jorissen en Bok, wat die Engelse regering gedurende Julie en Augustus 1877 ontmoet het om die herstel van die Transvalers se onafhanklikheid te eis. Ten spyte van die mislukking van hierdie sending het die Transvaalse burgers voortgegaan om protes te handhaaf en is verskeie volksvergaderings gemonster wat gou in 'n baie sterk versetbeweging ontwikkel het.

In April 1878 word Kruger opnuut deur 'n groot volksvergadering afgevaardig om weer na London te gaan en die Transvaal se onafhanklikheid opnuut te gaan opeis. Hierdie keer is hy deur Piet Joubert en Edward Bok vergesel. Die deputasie is kil ontvang en keer in November 1878 onverrigtersake terug.

Die burgers het nou tot lydelike verset oorgegaan en geweier om belasting te betaal. Gedurende November 1880 is beslag op 'n ossewa van Piet Bezuidenhout te Potchefstroom gelê om per openbare veiling ter delging van sy belastingskuld verkoop te word. Hierop volg 'n daad van rebellie teen die Britse gesag toe 'n klompie burgers die wa ontset en dit self langs die hoofstraat af trek waarna dit aan die eienaar op sy plaas terugbesorg is.

Sir Owen Lanyon, Goewerneur van Transvaal, reik nou lasbriewe uit vir die inhegtenisname van die leiers van die Potchefstroomse opstand. 'n Sterk burgerkommando word op die been gebring terwyl kolonel Bellairs, die Britse Militêre bevelvoerder in die Transvaal, 'n sterk mag na Potchefstroom stuur om die Landdros by te staan. In 'n mondelinge konfrontasie op 22 November 1880 tussen die Polisie-kommandant Raaf en die opstandsleier Piet Cronje, moes Raaf die aftog blaas.

Op 11 Desember 1880 vind 'n groot volksvergadering en klipstapeling by Paardekraal plaas waar besluit is dat die Britse anneksasie van 1877 ter syde gestel word en dat die wettige regering van die ZAR, soos dit voor die anneksasie bestaan het, onmiddellik sy funksies moet hervat. Paul Kruger, destydse Vise-President, moes as Staatshoof in die plek van Burgers optree terwyl Piet Joubert as Kommandant-generaal, verkies is. Die Volksraad het op 13 Desember 1880 vergader en het Paul Kruger, Piet Joubert en M W Pretorius as Driemanskap benoem om die landsbestuur te behartig met Heidelberg as regeringsetel.

Dit was by Potchefstroom waar die eerste skote in die Eerste Vryheidsoorlog op 17 Desember 1880 geklap het. Op 20 Desember 1880 volg die slag van Bronkhorstspruit waar die Britse 94ste Regiment onder Luitenant-kolonel Anstruther 'n verpletterende neerlaag toegedien word.

Gedurende Januarie 1881 word Pretoria deur die Boeremagte onder bevel van generaal D J E Erasmus beleër. Luitenant-kolonel Gildea, bevelhebber van die Britse garnisoen in Pretoria, het verskeie pogings aangewend om die Boere te verdryf, dog sonder enige sukses.

Op 12 Februarie 1881 lei Gildea 'n uitvalsmag bestaande uit 614 man, waarvan 198 berede was, en drie kannonne in 'n suidelike rigting langs die pad na Heidelberg om die Boerelinie te breek sodat hy die beleërde Potchefstroomse garnisoen kan gaan ontset. Die Boere onder bevel van kommandant Hans Erasmus was egter voorberei en het in 'n veekraal by die "rooi huis" op die plaas Brakfontein stelling ingeneem en met akkurate geweervuur verwoesting onder die Britse mag gesaai. Na Luitenant-kolonel Gildea se verwonding het sy manskappe op vlug geslaan en wel tot so 'n mate dat die Engelse verslaggewer geskryf het dat hy "was shocked to see regulars running towards Pretoria as fast as their legs could carry them".

So dan het die "Slag van Rooihuiskraal" die weg gebaan vir die roemryke Slag van Majuba op 27 Februarie 1881 waardeur die Transvalers hul vryheid herwin het.